Die fietsryer se bergfiets wat die polisie in Tableview opgespoor het.


’n Kranige fietsryer (71) van Stellenbosch is op die herstelpad nadat hy tydens ’n rit op die Stellenrust-pad deur rowers aangeval is.

Die fietsryer van ’n spoglandgoed langs die R44, se moderne bergfiets, GPS en selfoon is in die voorval deur die rowers gebuit. Die fiets is dae later deur die Stellenbosch-polisie in Table View opgespoor. Die voorval het Saterdag 13 Januarie om 18:30 plaasgevind.

“Ek ry elke Saterdag daardie 55 km-roete,” het die bejaarde gesê. “ ’n Gedeelte van die pad is plat en dan is daar ’n bult. Ek was besig om die bult te klim toe twee mes-swaaiende, vermomde rowers my beetkry en van my bergfiets af ruk. Hulle het my aangerand, my goedere gevat en is daar weg terwyl ek my bewussyn verloor het.”

Die man was vir byna vyf minute bewusteloos en is deur mede-fietsryers, wat net agter hom gery en die voorval sien afspeel het, te hulp gesnel.

“Een van hulle het ’n vriend gebel en dié het my hospitaal toe geneem.”

Die man het meswonde aan sy gesig en harsingskudding, asook drie frakture aan sy regterskouer, opgedoen en moes chirurgie ondergaan.

Hy is “gewalg, verbysterd, verstom en kwaad” ná die voorval, en hoop om ander fietsryers oor die gevare op die pad te waarsku.

Die saak is by die Stellenbosch-polisie aangemeld. Volgens die woordvoerder kapt. Nathalie Martin het goeie speurwerk tot die opsporing van die fiets gelei.

“Beamptes het leidrade op sosiale media opgevolg en dit het hulle tot by die fiets in Table View gelei. Die man in besit van die fiets het bevestig hy het die fiets vir R5 000 deur Facebook gekoop,” sê sy.

Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

  • Mense met inligting oor die voorval kan speursers. Kelvin Moses by 021 809 5042 of 084 564 1078 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.