Dit was ‘n besige week vir noodpersoneel in Franschhoek weens verskeie ongelukke met veral fietsryers en motorfietsryers wat deurgeloop het.
Die afgelope Vrydag (23 Mei) is twee mense in ‘n ongeluk op die R45 in Franschhoek beseer. Volgens paramedici het die betrokkenes slegs geringe beserings opgedoen. ‘n Klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
In ‘n afsonderlike botsing – ook Vrydag – is twee mense in Lambrechtsweg deur ‘n motoris van hul fietse afgestamp. Sers. Muriel Sitzer, ‘n woordvoerder vir die Franschhoek-polisie, het bevestig ‘n klagte van tref-en-trap word ondersoek en die bestuurder van die voertuig is intussen opgespoor. “Daar is kameras in die straat wat ingespan sal word, hoewel dit reeds donker was en die gehalte van die beeldmateriaal effe onduidelik is. Niemand is al in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort,” sê sy.
Sitzer waarsku mense om van ‘n ongelukstoneel af weg te ry, belemmer sake. Sy meen in gevalle waar motoriste dalk onveilig voel, is dit die beste om na die naaste polisiekantoor te ry en te verduidelik wat gebeur het eerder as om van die toneel af te vlug.