Frazer Barry (3de van links) en Deniel Barry (regs) saam met die Kylemore-hoërskoolgroep wat as wenners weggestap het in die 2022 Filmit-kompetisie in die kategorie beste musiekvideo.Foto:


Die 2023-finaliste van Paul Roos Gimnasium (PRG) se jaarlikse Filmit-fees is vandeesweek aangekondig, met vyf nuwe kategorieë wat vanjaar by die fees gevoeg is.

PRG het die Filmit-fees tydens die Covid-pandemie in 2021 van stapel gestuur. Die fees het aanvanklik as ’n kortfilmkompetisie tot stand gekom, maar bied in 2023 ’n veelsydige platform waar jong kreatiewes hul talente ten toon kan stel.

Jong filmmakers het vanjaar in die volgende kategorieë inskrywings ingedien: kortfilms, dokumentêre films, animasiefilms, musiekvideo’s, advertensies en ander films (enigiets wat buite die vyf amptelike kategorieë val).

Die kompetisie vir hoërskole lê sterk klem op mentorskap, en sluit mentorskapsinisiatiewe voor en ná die kompetisie in.

Die jaarlikse Shop Talk Sessions – interaktiewe gespreksessies oor die filmbedryf en die maak van films – is in 2023 tydens die Suidoosterfees by die Kunstekaap aangebied. ’n Indrukwekkende verskeidenheid sprekers het belangstellende gehoorlede oor ’n wye reeks onderwerpe toegespreek.

Dié sessies is opgeneem en word geleidelik beskikbaar gestel op die Filmit-fees se YouTube-kanaal.

Van die sprekers was akteurs Charlton George en Nicole Fortuin, die draaiboekskrywer Nico Scheepers, die kinematograaf Eduan Kitching, die vervaardigers Elle Oosthuizen, Adri Britz en Cat Pansegrouw, regisseur Nina Swart, filmmakers Sandulela Asanda en Richard Finn Gregory, die advertensiemaker Richard Truter, asook ander.

In Meimaand moes belangstellende deelnemers ’n kreatiewe voorlegging indien waarin hulle hul filmkonsepte, basiese storielyn en karakteromskrywings uiteen moes sit.

Elle Oosthuizen, vervaardiger by IdeaCandy, het voorleggings in die kortfilmafdeling geëvalueer en het uit 28 konsepte 12 gekies wat aanvaar is om aan die Filmit-fees 2023 deel te neem. Haar opmerkings is ook op die Filmit-feeswebblad gelaai.

Finaliste is meestal van die Wes-Kaap, sowel as Gauteng, Noord-Wes, KwaZulu-Natal en Marondera (Zimbabwe).

Die volgende skole se filmkonsepte is aanvaar om aan Filmit 2023 deel te neem:

Advertensies

. Hoërskool Clifton – Mfiki Ndlovu

. Hoërskool Kylemore – Leerdergroep

Animasie

. Hoër Jongenskool Paarl – The Prince of Privacy

. Hoërskool Parelvallei – Patches

. Paul Roos Gimnasium – Arma

. St. Albans College – Loss

Dokumentêre

. Hoërskool Clifton – Alone

. Hoër Meisieskool Potchefstroom – It’s a Man’s World

. Hoër Jongenskool Paarl – Keys aren’t just Black & White

Musiekvideo’s

. Hoërskool Alexander Road – On my Own

. Hoërskool Jan van Riebeeck – Mad at Time

. Hoërskool Waterkloof – Let Love Win

. Hoër Meisieskool Potchefstroom – Dreams in the Sky

. St. Albans College – High Fashion

. Worcester Gimnasium – Deep Waters

Ander films

. Hoërskool Charlie Hofmeyr – Happiness is Within Yourself

. Hoërskool Waterkloof – You Must

. Hoër Jongenskool Paarl – The Making of . . .

Kortflms

. Black & White Theatre Company – Man’s Best Friend

. Hoërskool Clifton – A Scoop with Death

. Girls’ SA-kinderhuis – Die lewe is wat jy daarvan maak

. Hoërskool Jan van Riebeeck – Social Species . . .

. Hoërskool Kalahari – Modus Operandi

. Hoër Meisieskool Bloemhof – Ontsnap

. Hoër Meisieskool Potchefstroom – The Agenda

. Hoërskool Kloof – Vampire Therapy

. Hoër Jongenskool Paarl – Say Cheese!

. Paul Roos Gimnasium – Geskiedenis

. Watershed College – The Upcoming

. Hoërskool Zwelethemba – Madoda Sabelani

Alle skoolgroepe het nou drie maande om hul films te vervaardig. Die films moet op 29 September ingedien word.

Nominasies vir toekennings word op 17 Oktober aangekondig en die wenners in November.

Die mentorskapprogram, kontant- en ander pryse word moontlik gemaak deur ClemenGold, Orms Direct en die SAE Instituut Suid-Afrika. Wenners ontvang nie net kontantpryse nie, maar mentorskapervarings saam met kenners in die bedryf.

Wenners in 2022 se kategorieë beste akteur en beste ondersteunende akteur sal eersdaags die geleentheid geniet om rolle te vertolk in die plaaslike sepie Suidooster.

Wenners van die beste Musiekvideo 2022 (Hoërskool Kylemore ) het vroeër vanjaar ’n werksessie met Frazer Barry geniet.

Dié sessie het gelei tot verdere opleidingsgeleenthede by die US se dramadepartement.

Die aspirant-filmmaker Mila Kotze (Hoër Meisieskool Bloemhof) het gratis opleiding by die aktrise Dorette Potgieter se nuwe filmskool ontvang.

Die jong filmmaker Tom Siebrits (Hoër Jongenskool Paarl) het opleiding in die gebruik van musiek in films by Melissa van der Spuy gekry.

Soortgelyke opwindende geleenthede lê vir 2023-wenners voor.

You need to be Logged In to leave a comment.