Illse Roos is as Adele Swan in #LoveMySelfie te sien. Die fliek se première is môre (Vrydag 1 Desember) by Blaauwklippen.

Credit: SYSTEM

Verbeel jou jy en ’n groep vriendinne kan julle op ’n plesiervaart, ver weg van die daaglikse bestaan, vernuwe en die verlede agterlaat. Hemels, reg?

Tog is dit nie altyd so maklik nie. Só vind die plaaslike televisiester, Adele Swan, sommer vinnig uit wanneer sy ’n geleentheid aangryp om haar skuld te delg deur in te stem om die gesig van ’n eiendomsmagnaat, George, se veldtog te word: ’n kompetisie op die luukse plesiervaart MSC Sinfonia om eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-aftreelandgoed te verkoop.

Haar ego kry ’n knou wanneer sy agterkom dat sy aan die Survivor-, of seniors-kompetisie, aan boord van die skip sal moet deelneem. Sy loop ook ’n ou skoolvriendin, Winnifred, raak, wat die deure van haar langvergete verlede oopmaak. Die herinneringe bring selfvertwyfeling, spyt en onderdrukte gevoelens vir Adele na vore, terwyl die druk op haar om die aftree-eenhede te verkoop, al hoe groter word en George toenemend onredelik raak.

Deur hul beste selfie in te stuur, kan 12 gelukkige seniors ’n naweek op ’n plesiervaart saam met die televisiepersoonlikheid Adele wen, waar die vroue meeding in oorlewingstyl-speletjies en -vasvrakompetisies om die eksklusiewe prys van ’n aftree-eenheid ter waarde van R7 miljoen te wen.

Die komiese en hartroerende rolprent #LoveMySelfie handel oor veel meer as nét ’n langverwagte plesiervaartvakansie. Vier vroue wat ouer as 60 is, onderneem ’n reis na binne en ontdek dit is nooit te laat om jouself te ontwikkel en selfs te verander nie.

Die hoofkarakter word deur die gesoute en veelsydige aktrise Illse Roos, bekend vir rolle in Egoli, Die Boekklub, Boland Moorde, Troukoors en Fynskrif, vertolk. Sy was ook onlangs in die kykNET-sepie Suidooster te sien.

Adele se langverlore vriendin Winnifred word deur die veteraanaktrise June van Merch vertolk, en die res van die rolverdeling sluit in Joanie Combrink, Robyn Scott, Chané Grobler, Hélène Truter, Chanelle de Jager, Moses Williams en Kevin Smith, wat die slinkse George vertolk.

Die filmmaker en aktrise Lika Berning is die regisseur. Die draaiboek is deur Hélène Truter geskryf en die fliek is vervaardig deur Nigel Tattersal, Vlokkie Gordon, Kurt Darren en Berning.

. Die #LoveMySelfie-première vind môre (Vrydag 1 Desember) op die Blaauwklippen-wynlandgoed in Stellenbosch plaas. Kaartjies is te koop op die TixSA-webblad. Besoek www.lovemyselfie.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.