Ons het geleer, of jy nou wil hoor of nie, van liefde, omgee, reg en geregtigheid, gehoorsaamheid, dissipline, respek, getrouheid, vriendskap en van alles wat die vrug van die Gees praat.

Daar is met jou “gedeal” as jy uit die wil uit is. Jy het respek vir dié wat ouer as jy is. Jy luister as hulle praat, want daar was gekyk en omgegee vir mekaar en mekaar se kinders. Jy sou ook nooit voor ouer gardes rook of “terugtale” gee vir ander nie.

Jy’t geleer om jou plek te ken en dit te hou. Alles is gedoen uit liefde en dit het ons net beter kinders, jong mense en volwassenes gemaak. Jy’t dinge waardeer en nie vir “granted” gevat nie. Die gemeenskappe kon met mekaar praat, kuier en wrywing uitsorteer. Totdat ’n paar hul mag misbruik het. Almal is toe oor dieselfde kam geskeer. Skielik het almal regte wat die regering deur wette en menseregte daargestel het en regverdigheid loop by die agterdeur uit. Onthou, opvoeding begin by die huis en by jouself. Liefde vir ander begin by jouself.

Daar het soveel dinge in ons gemeenskappe ingesluip waarmee ons sukkel om te “deal”. Soos dwelms en drankmisbruik wat aanleiding gee tot baie gewelddadige optrede.

Kinders kom in opstand teen ouers. Ongehoorsaamheid is aan die orde van die dag. Rolle word omgeruil en die kinders bepaal hoe die gesin moet optree. Selfone haal die kommunikasie uit die gesin. Geen gesinspeletjies vind meer plaas nie.

Die vyand het gekom om te steel, slag en verwoes. Hy wil ons verhouding met ons Vader vernietig. Dit is hoekom ongesonde dinge in ons gemeenskappe, skole, kerke en dorpe gebeur.

Laat ons mekaar liefhê, respekteer en onderskraag. In ons gemeenskappe kyk ons anderkant toe, want dit is mos nie “my” probleem nie. My kinders is tog nie daar betrokke nie. Ons woon egter in dieselfde omgewing en wat ander raak, raak ook vir my. Ons is geregtig op ’n gesonde, veilige, rein omgee-omgewing waar vrye opvoeding kan plaasvind.

Kom ons vat mekaar se hande, bid saam, werk saam en staan saam om vir ons kinders ’n goeie gesonde toekoms te kan skep.

DEON ARENDS,

IDASVALLEI

You need to be Logged In to leave a comment.