Tuberkulose (TB) is geneesbaar.
Dit is wat die gesondheidsektor wil hê mense moet weet.
Volgens die provinsiale departement van gesondheid is TB die leidende oorsaak van sterftes in die provinsie. Hoewel tuberkulose hoogs aansteeklik is, is die siekte behandelbaar met toetsing, behandeling en inentings, verduidelik die departement.
Maart is TB-maand en Eikestadnuus het met die gesondheidswerker Clinton Claassen van Klapmuts gesels oor die werk wat hy met TB-pasiënte doen.
Die 32-jarige is ’n verpleegkundige en vier vanjaar ’n dekade in sy beroep. Hy is die afgelope ses jaar aan die Klapmuts-kliniek verbonde en werk die afgelope vyf jaar spesifiek met TB-pasiënte.
“Ek beplan vooruit om roetine-opvolgbesoeke te doen met pasiënte wat ons hier by die kliniek met behandeling ondersteun, en ook watter TB-pasiënte uit die hospitaal ontslaan is en verdere ondersteuning van die kliniek se kant af nodig het,” verduidelik Claassen.
Hy sien maandeliks sowat 15 pasiënte en volg ook op met pasiënte wat vir TB getoets is en positief getoets het. “Hulle moet dadelik met behandeling begin,” sê hy.
Volgens die departement het 311 mense in die provinsie tussen 2023 en 2024 weens TB-komplikasie omgekom. Daarom is dit belangrik vir werkers soos Claassen om pasiënte te laat verstaan die toestand is geneesbaar.
“Ek is baie streng wanneer dit by jou gesondheid kom, want jy moet besef dat jy verantwoordelikheid vir jou gesondheid moet neem. Dit beteken jy moet doen wat jy kan om gesond te bly, maar ook jou medikasie neem en ons raad volg wanneer jy siek is.
“Die pasiënt se gewig speel ’n belangrike rol wanneer ons bepaal watter behandeling hulle moet volg. Ons bied ook beradingsessies aan sodat hulle meer oor TB verstaan en ook waarom dit so belangrik is dat hulle hul medikasie neem totdat hul behandeling voltooi is,” verduidelik hy.
- Gaan asseblief kliniek toe as jy aanhoudend hoes of bloed hoes.
- As jy positief getoets word vir TB, drink jou medikasie enduit sodat niemand anders siek word nie. As jy positief getoets word, moet ander in jou huis ook getoets word.
- Verseker dat daar vars lug is waar jy is, want TB versprei wanneer een mens wat dit het, maar nie medikasie gebruik nie, hoes, en ander daardie lug inasem.
- Was gereeld jou hande.
- Indien jy iemand ken wat TB het, moedig hulle aan om hul behandeling te voltooi.
- Neem jou baba en jonger kinders kliniek toe vir die gratis immunisering wat beskikbaar is. Dit help hulle om te groei, sterker te word en gesonder te bly.
Claassen sê omdat berading onmiddellik beskikbaar is, help dit pasiënte om hul siekte te verstaan en verwerk. Vir baie kan die vooruitsig van behandeling kommerwekkend wees omdat dit maande kan neem. Claassen meen dus om vertroue te wen, speel ’n groot rol in sy beroep.
“Een van my grootste uitdagings is om pasiënte se vertroue te wen. Dit gebeur wel mettertyd. Wanneer ons ontmoet en ’n konsultasie het en hulle verstaan dat die konsultasie vertroulik is, dan maak ons vordering.”
Om ’n “dankie” van ’n pasiënte te kry en die wete hy het ’n verskil in iemand se lewe gemaak, gee dié gesondheidswerker moed.
Mense by wie TB reeds gediagnoseer is, moet volhou met hul behandelingsplan, verduidelik Claassen.
“TB is geneesbaar. As jy jou medikasie drink, opvolgafsprake nakom en ’n gesonder leefstyl volg, kan jy die siekte klop en ’n gesonde lewe hê. Onthou, jy kan TB oorkom,” sê hy.