Minnie Prins (38) van Klapmuts wil ander inspireer om tuberkulose te klop, nes sy gedoen het.


Hoewel tuberkulose (TB) geneesbaar is, is dit vir baie ’n stryd om te oorkom, maar Minnie Prins weet dit kan gedoen word.

TB is in 2020 die eerste keer by Prins (38) gediagnoseer. Dié Klapmuts-inwoner verduidelik dit was ’n stryd om die siekte te klop en sy het sedert 2020 vier keer TB gehad. “My lewe het drasties verander sedert ek TB gehad het, want ek was ’n dwelmverslaafde. Ná my eerste diagnose het ek ge-relapse. My regterlong het platgeval en ek het my kêrel verloor – hy het ook TB gehad. Ons het saam gerook en ons albei is in die hospitaal opgeneem. Hy is in 2021 oorlede,” vertel Prins.

Haar verslawing, wat sy sedertdien oorkom het, is ’n voorbeeld van hoe addisionele faktore TB-pasiënte se herstel kan vertraag.

“Hoewel TB ’n gesondheidsverwante kwessie is, is dit ook ’n sosio-ekonomiese probleem wat ’n veelvuldige benadering vir mediese ingryping benodig, en daarom is ons verantwoordelikheid as die departement van gesondheid en welstand om te verseker dat TB-sifting en behandeling toeganklik is vir gemeenskappe,” het dr. Nomafrench Mbombo, die provinsiale minister van gesondheid en welstand, verlede week gesê.

Mbombo en ander rolspelers het Maandag (20 Maart) byeengekom vir TB-maand, wat in Maart herdenk word.

Tussen 2019 en 2022 het 121 917 pasiënte met TB-behandeling begin en in 2022 het die TB-behandeling­sukseskoers 84,1% bereik. Prins was aanvanklik deel van die pasiënte wat nie hul behandeling voltooi het nie.

“In die begin was dit moeilik, maar [die plaaslike verpleegkundige] Clinton Claassen het gereël dat hospies na my kom indien ek my afspraak by die kliniek gemis het. Hy is werklik ’n lieflike mens wat als in sy vermoë doen om sy gemeenskap te help,” meen sy.

Algemene simptome van TB sluit in:
  • ’n aanhoudende of onverklaarbare hoes;
  • bloedige sputum of slym;
  • pyn in die bors wanneer jy hoes of asemhaal;
  • gewigsverlies en/of verlies aan eetlus; of stadige groei by kinders (tel nie genoegsame gewig op nie); 
  • maleise of koors;
  • en erge sweet in die nag.

In Prins se geval het haar genesing van TB saam met haar nugter-gewoontes gegaan. “Dis nou drie jaar sedert ek nie meer dwelms gebruik nie, en ook nie drank of sigarette nie. Ek dien die Here wat my genade geskenk het om my tot die besef te bring dat ek my behandeling moet gebruik. Die dood van my kêrel was ’n groot skok. Ek het besef dit kan met my ook gebeur as ek nie my behandeling neem nie.”

Benewens haar gesondheid het Prins ook besef sy moet beter word vir haar kinders se onthalwe. “Wat my moed laat skep het om aan te gaan, is die feit dat ek ’n beter ma wil wees vir my kinders. Ek wil ’n goeie dogter wees vir my ouers, want ek het by hulle kom bly toe ek papsiek was.”

Prins wil ander bemoedig wat deur TB-behandeling gaan. “TB is ’n geneesbare siekte. Solank jy jou sesmaande- of negemaande-behandelingsprogram voltooi, sal jy spekvet en gesond word soos ek. En moet asseblief nie jou behandeling stop as jy beter voel nie. Jy móét dit voltooi sodat jou longe ten volle kan genees, anders sit jy soos ek met een long wat baie gou vatbaar is vir infeksies. Hou jouself ook altyd warm wanneer dit koud is,” moedig sy aan.

You need to be Logged In to leave a comment.