Die liefde het omtrent geblom toe Sonja Adonis, ’n inwoner van Cloetesville, Sondagmiddag 18 Februarie haar jaarlikse Valentynsete in die Eike-saal aangebied het.
Honderd gaste, getooi in wit en rooi uitrustings, het die spoggeleentheid bygewoon. Dit is die vyfde jaar dat Adonis, wat in 2017 die Mev. Stellenbosch-titel verower het, die ete vir die gemeenskap aanbied.
“Dis vir my ’n baie emosionele dag, want ek bied die geleentheid ter ere van my ontslape ma, Johanna “Hannie” Pietersen, aan. Toe ek die Mev. Stellenbosch-kroon in 2017 gewen het, is ek gevra wat ek graag vir my gemeenskap wil doen,” het sy in haar toespraak gesê.
“Ek het besluit om dié geleentheid in die maand van liefde aan te bied, want dit was altyd my en my ma se droom. Ek voel dis belangrik dat ek met die geleentheid volhard, om die liefde met my gemeenskap en familie te deel en voort te bou op my ma se nalatenskap.”
Die plaaslike sakeman en raadslid Wilfred Pietersen was een van die genooide gaste, en het ook ’n paar gevleuelde woorde gespreek.
“Auntie Hannie was ’n ystervrou wat nie bang was as iets in ons gemeenskap gebeur nie. Sonja neem vandag daardie leisels oor en staan haar ma se skoene vol,” het hy gesê.
Enigma von Hamburg, ’n skoukoningin en -afrigter, was ook teenwoordig en het gesê dat Adonis met haar omgeehart aan haar eie nalatenskap bou deur al die projekte wat sy in haar gemeenskap aanbied.