Vasberade atlete het Woensdag 2 Oktober aan die 14de Dagbreek-straatmyl in Victoria-straat, Stellenbosch deelgeneem. Foto: Charmaine Sander Photography


Die 14de Dagbreek-straatmyl, wat Woensdag 2 Oktober as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees in Victoria-straat aangebied is, is deur groot deelname en goeie prestasies gekenmerk.

In die mans ope-afdeling het Deon Lee Hendricks met ’n tyd van 4:04.87 sy titel suksesvol verdedig. Awethu Mtsotho en Brenden Wessels was onderskeidelik tweede en derde.

Die naam op almal se lippe was egter Thinus Erasmus, ’n 17-jarige skoolseun van die Hoërskool Outeniqua in George. Hy het die o.19 seuns-afdeling met ’n briljante 4:06.08 gewen – amper 15 sekondes voor sy naaste teenstander. Mens wonder wat sou gebeur het as hy in die mans ope-afdeling deelgeneem het; sy tyd plaas hom algeheel derde.

Nog ’n junior wat presteer het, is Erna-Mari Conradi van Hoër Meisieskool Paarl wat die afgelope vier jaar haar ouderdomsgroepe oorheers het.

Die hoogtepunt van die dag was die erkenning aan die legendariese atleet Zola Budd, wat vir haar wêreldrekord in die 5 000 m op Coetzenburg vereer is. Die atleet is die SA Myl rekordhouer en het die tweede plek in die vroue meesters-wedloop van die straatmyl behaal. Die wenner was Marna van Deventer.

Die ope vroue-afdeling is deur Yandiswa Shange (4:56.75) gewen, met Kobie Griffiths tweede en Lauren Jonathan derde.

Die pretmyl afdelings het weer groot vermaak gebied met studente in vrolike kostuums en baie pret. Dít gee aan die Dagbreek-straatmyl sy spesiale karakter. Die pretmyl wenners was Jorem van de Heever (mans) en Lanah Nel (vroue).

Nog ’n unieke eienskap van die Dagbreeks-straatmyl is die skaatsplank-afdeling wat deur Mickail Joubert gewen is.

Deon Lee Hendricks (middel) het met ’n tyd van 4:04.87 sy mans-ope titel suksesvol verdedig. Awethu Mtsotho (regs) was tweede en Brenden Wessels (links) was derde. Foto: Charmaine Sander Photography

Skaatsplankryers het ook aan die unieke skaatsplank-wedloop deelgeneem. Foto: Charmaine Sander Photography

Die hoogtepunt van die dag was die erkenning aan die legendariese atleet Zola Budd (middel), wat vir haar wêreldrekord in die 5 000 m op Coetzenburg vereer is. Met haar is die bekende atleet Sonja Laxton, wat in 1984 saam met Budd aan die wedloop deelgeneem het, en Francois Fouché (organiseerder van die Dagbreek-straatmyl). Foto: Charmaine Sander Photography

You need to be Logged In to leave a comment.