Zahn Hulme van die Atterbury-trust en die feesbestuurder Niël Rademan het die verrigtinge geniet.


Wêreldgehalte musici het gaste Woensdag 7 Augustus by De Warenmarkt in Stellenbosch ’n voorsmakie gegee van wat op vanjaar se program is vir Hessequa Harmonie wat binnekort weer in Heidelberg in die Wes-Kaap gehou word.

“Dankie dat die mense van die Hessequa-streek net die beste kan geniet,” het Grant Riddles, die burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit aan feesbestuurder, Niël Rademan, gesê.

Hessequa Harmonie, wat van Dinsdag 17 tot Saterdag 21 September plaasvind, sal weer kunsuitstallings, toneel en natuurlik pragtige klassieke en ligter musiek in ’n gesellige plattelandse omgewing bied.

Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief het by die program se bekendstelling gepraat oor die waarde van kuns en musiek op die platteland. “Ons wat die vermoë het, het ’n verantwoordelikheid om die kunste te ondersteun,” het sy gesê en beklemtoon hoe belangrik dit is om kinders aan musiek en kuns bloot te stel.

Jacobi de Villiers sing tydens die programbekendstelling by De Warenmarkt in Stellenbosch.

Susan Mouton, Elna van der Merwe, Jose Dias, Jacobi de Villiers en prof. Mario Nell het die geleentheid bygewoon.

Rene Arendse van Afrikaans 100 en Belinda Jacobs van die Pinotage-vereniging het saam ’n glasie geklink.

Zanta Hofmeyr, Elna van der Merwe en Susan Mouton het die gaste by die bekendstelling met hul musiektalente vermaak.

Die sangeres Jacobi de Villiers gaan juis vanjaar spesifiek op jong luisteraars fokus tydens ’n spesiale gratis aanbieding vir voorskoolse kinders by Hoërskool Heidelberg.

Elna van der Merwe, Susan Mouton en Zanta Hofmeyr, wat by die fees gaan optree, het saam musiek gemaak en ook vir De Villiers begelei in haar uitvoering van Habanera uit Bizet se opera Carmen.

Haidee Muller-Isaacs, wat vanjaar die boekbesprekings gaan aanbied, het tydens die bekendstelling as seremoniemeester opgetree en Rademan het al die ondersteuners van die fees bedank vir hulle gewaardeerde bydraes tot die sukses van die fees wat vir die sewende agtereenvolgende jaar aangebied word.

Die geleentheid is bygewoon deur van die kunstenaars wat gaan optree, borge, organiseerders van ander kunstefeeste en feesvriende wat passievol oor kuns en musiek kon gesels terwyl hulle heerlik onthaal is by De Warenmarkt.

Soos die burgemeester uitgelig het, is Hessequa Harmonie ook ’n welkome ekonomiese inspuiting vir die omgewing met gastehuise wat volbespreek word vir die week van die fees en plaaslike ondernemings wat deur feesgangers ondersteun word. Belangstellendes word dus aangemoedig om so gou as moontlik hulle kaartjies en verblyf te bespreek.

Kaartjies is aanlyn deur Webtickets beskikbaar of kan kontant by Karee Tree in Heidelberg gekoop word. Besoek hessequaharmonie.co.za vir meer inligting en die volle program.

You need to be Logged In to leave a comment.