Die rugby-juniors van Kylemore is Saterdag (7 Desember) vir hul harde werk op die veld beloon.
Die bestuur van die Kylemore-juniorrugbyklub het die afgelope naweek die rugbygemeenskap by die plaaslike hoërskool bymekaar geroep om die kinders te vereer. Elke span het medaljes ontvang vir sy sportvernuf. Onder hulle was die o.10-span wat die afgelope jaar nie een keer die knie vir hul opponente gebuig het nie.
Volgens die bestuur is die gemeenskapsklub ’n hartsaak wat beteken dit verg baie harde werk, maar beteken ook daar is baie liefde.
Benewens die sertifikate en trofeë vir die spanne is spelers ook vir hul individuele prestasies beloon.
Wayden Cyster (17) is aangewys as die Sportman van die Jaar. Dié agtsteman sê egter hy sou nie dié prestasie sonder sy span kon behaal het nie.
“Ek wil nog verder gaan met rugby. Ek wil vir die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) rugby speel en eendag vir die Springbokke,” sê Wayden.
Hy sê ook om vanjaar saam met sy vriende te kon speel was lekker, omdat almal mekaar reeds ken.
Die flank Angelo Adams (18) is as Speler van die Jaar aangewys. Hy sê hoewel hul afrigter die span soms ’n moeilike tyd op die veld gegee het, was dit alles die moeite werd. Aangesien Angelo nie meer as lid van die juniorspan kan speel nie, is sy plan om volgende jaar by Kylemore-rugbyklub se o.20-span aan te sluit.
Volgens die afrigter Brian Jacobs was dit ’n goeie dog uitdagende jaar vir die klub.
“Die juniors is die grondslagfase vir die senior spanne. Indien daar nie juniors is nie, is daar uiteindelik nie ’n senior Kylemore-span nie. Hierdie kinders geniet dit om daar te speel. Ek leer hulle ook daar is nie iets soos ‘ek kan nie’ – ek sê jy kan.”
Die werk is vir die Kylemore-kinders se onthalwe en die enigste rede om die taak aan te pak, meen hy.
“Ons gemeenskap is baie anders. Indien hier nie sport is nie, sal die gemeenskap agteruit gaan, want ons hou die kinders van die strate af. Hulle sien uit om uiteindelik vir die dorpspan te speel en daarna dalk provinsiaal.”
Onder die klub se spelers was ’n handjie vol meisies. Dit was ’n aangename uitdaging om hulle as lid van die spanne te hê, in plaas daarvan om hulle net eenvoudig weg te wys.
“Ons moet aanpas en dit was ’n aanpassing om met die meisies te werk. Dit was ’n leerproses en hoe langer ons aanhou en met hulle werk, hoe beter raak dit,” meen Jacobs.
Die ander individuele toekennings het gegaan aan Zayron Links, Ashwill Heathcote, Naydon Adams, Quade Scheepers en Sergio Andries vir bevorderde spelers van die o.10-span. In die o.12-span was Jayden Janse, Quewin Jackson en Elyna Johnson die beste bevorderde spelers.
Die klub se top-voorspelers was Terin Jackons (o.12) en Angelo Adams (o.18).
Agterspelers van die jaar was Tyresse Ellen (o.12) en Cedick Booysen (o.18).