’n Boomplant-seremonie, wat deur die raadslid Annemarie Ferns en die wykskomitee van wyk 7 aangebied is, is verlede Woensdag (1 November) by die Uniepark-arboretum gehou.
Die geleentheid sou aanvanklik in September tydens Boomplantmaand gehou word, maar laat winterreën en nat toestande het tot die uitstel van die seremonie gelei.
Gaste uit die gemeenskap, wykskomiteelede en amptenare van die Stellenbosch-munisipaliteit het die seremonie bygewoon.
Die uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer, Ferns e n die wyksadministrateur Raymond Loftie-Eaton het die byeenkoms om die beurt toegespreek en almal persoonlik bedank vir hul aandeel om te verseker dat die “groenlong” van wyk 7 bewaar en goed versorg word.
Tydens die geleentheid is altesaam 16 bome deur die wykskomiteelede, in samewerking met lede van die publiek, geplant, insluitend voorskoolse kinders van die Junior Akademie, verteenwoordigers van die Laerskool Stellenbosch en die Hoërskool Stellenbosch, Langverwag-tehuis en vooraanstaande inwoners van Stellenbosch.
Van Deventer het, tesame met raadslede wat die geleentheid bygewoon het, die eerste boom geplant voordat die res van die bome hul tuiste in die grond gekry het.
Die boomspesies wat geplant is, sluit in boswilger, witsering, wildepeer en aapdoring.