FOTO’S: Polisieorkes gee Rietenbosch les in musiek en veiligheid

Melodieë het verlede Donderdag (22 Februarie) deur die gange van die Laerskool Rietenbosch weerklink toe die Wes-Kaapse polisie-orkes dié skool se leerders en onderwysers met hul talent vermaak het.


Melodieë het verlede Donderdag (22 Februarie) deur die gange van die Laerskool Rietenbosch weerklink toe die Wes-Kaapse polisie-orkes dié skool se leerders en onderwysers met hul talent vermaak het.

Die geleentheid is deur Heinrich Arrison, ’n plaaslike veldorkesleier en musiekonderwyser, gereël en dit was die tweede keer dat dié orkes ’n Stellenbosse skool besoek het. Die orkes het verlede Oktober die leerders van St. Vincent’s Primêr met hul musiek betower.

“Ons kinders kry nie die geleentheid om die orkes te hoor speel nie. Ek wil oor die volgende paar maande die orkes na nog skole in die dorp nooi,” sê Arrison.

“Dis ook ’n geleentheid om die kinders aan die werke van ’n orkes voor te stel. Die besoek is deel van die orkes se uitreikprogram na Wes-Kaapse skole.”

Rietenbosch se skoolhoof, Jardine Jappie, sê dit was ’n voorreg om die orkes by die skool te hê.

“Met hul besoek besef die leerders dat die polisie nie net daar is om ons te beveilig nie, maar dat die polisiebeamptes ook mooi musiek maak.”

Die leerders is tydens die 60-minute-besoek deur die musiek meegevoer en het omtrent litte losgemaak en saamgesing met bekende liedjies soos “In The Stone”, “Let It Go”, “Finesse”, “Wikkel Wikkel” en “Perfect”. Verder is hulle ook voorgestel aan die instrumente wat deur die polisiebeamptes gespeel is en aangemoedig om vir die klank van elke instrument in die liedjies te luister.

Leerders is ook tydens ’n praatjie oor die belangrikheid van die polisie in gemeenskappe geleer en hoe polisiebeamptes hul vriende is en kinders teen misdaad moet beskerm. Die polisie se noodnommer is ook met die leerders gedeel en hulle is meegedeel dat boeliegedrag nie toelaatbaar is nie.

Een van die orkeslede het die instrumente wat die orkes gebruik om musiek te maak aan die leerders voorgestel.

Die groep Rietenbosch-leerders is na vore geroep om op die gewilde liedjie, “Wikkel, wikkel”, te dans.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.