Fietsryer Dylan Victor spring oor vier vrywilligers met sy fiets. Die gehoor was beide opgewonde en opgewerk vir die toertjies. Foto: Yaël Malgas
Fietsryer Dylan Victor spring oor vier vrywilligers met sy fiets. Die gehoor was beide opgewonde en opgewerk vir die toertjies. Foto: Yaël Malgas

Danksy ‘n skenking van splinternuwe fietse sal plaaslike buurtwagte nou makliker patrollies doen en talle kinders sal op fietse en uit die strate bly.

As deel van mobiliteitsmaand het die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, die Bicycle Empowering Network (BEN) en Pedal Power Association SA op Saterdag 25 Oktober altesaam 44 fietse aan gemeenskapslede by die Idasvallei-sportterrein oorhandig.

Volgens Rodney April van die Hillside- buurtwag sal die fietse die vrywilligers help om ‘n groter omgewing te patrolleer.

“Dit sal ook beteken ons kan vinniger reageer indien inwoners ons van gebeure in die buurt verwittig. Die fietse sal ons help om as meer professioneel beskou te word,” meen April.

Van links is Jan Scannell (Prochorus), Isaac Sileku (die Wes-Kaapse minister van mobiliteit), Rodney April (Hillside-buurtwag), Greg Jaftha (Juffernbrugh-buurtwag), Yumna Gihwala-Salie (departement van mobiliteit), Dorothea Albanie (Metodistekerk Wellington) en Karel Dumpies (Angels of Hope). Foto: Yaël Malgas
Van links is Jan Scannell (Prochorus), Isaac Sileku (die Wes-Kaapse minister van mobiliteit), Rodney April (Hillside-buurtwag), Greg Jaftha (Juffernbrugh-buurtwag), Yumna Gihwala-Salie (departement van mobiliteit), Dorothea Albanie (Metodistekerk Wellington) en Karel Dumpies (Angels of Hope). Foto: Yaël Malgas

Die Juffernbruch-buurtwag het ook fietse ontvang.

Die jong fietsryers van die Prochorus-gemeenskapsontwikkelingspan het nou ook meer rygoed om die roetes in Jonkershoek mee aan te pak.

Die Idasvallei-gemeenskapsroetes, die Wellingtonse Angels of Hope-gemeenskaps-ontwikkelingsorganisasie en die Metodistekerk in Wellington het by navraag gesê die fietse sal gewis ‘n aanwins wees.

LEES OOK: Kinders laat die speke sing

Isaac Sileku, die Wes-Kaapse minister vir mobiliteit, sê sy departement se fokus is nie net openbare vervoer nie, maar ook nie-gemotoriseerde vervoer.

“Ons probeer om deur die provinsiale volhoubarevervoerprogram om mobiliteit vir almal toeganklik en volhoubaar te maak. Dit beteken ook stap en fietsry, wat nie net goedkoop is nie, maar ons ook fiks hou,” het Sileku gesê.

“Ons is oortuig dat fietsry vir almal is, en ons is dankbaar dat dit hier in Stellenbosch kan wees, want hier is reeds infrastruktuur wat die begunstigdes sal help om veiliger te kan fietsry en die kwessie van verkeersprobleme die hoof te bied. Mense moet dus gewoond raak aan fietsry.”

  • Jong fietsryers van Idasvallei kyk hoe Dylan Victor op een wiel grond toe keer. Foto: Yaël Malgas
  • Fietsryer Dylan Victor, van The Life Cycle, vermaak die gehoor met sy een-wiel-toertjies.  Foto: Yaël Malgas
  • En op! Dylan Victor spring van boks na boks op een wiel. Foto: Yaël Malgas
  • Dylan Victor van Cycle for Life wys die afgelope Saterdag (25 Oktober) van sy toertjies op sy fiets.

Rdl. Reginald Pheiffer stem saam en meen dit is goed om ‘n kultuur van fietsry onder veral jongmense te vestig. Hy sê dit werk nie om infrastruktuur vir fietryers te skep as die gemeenskap nie fietse as alternatiewe of voorkeurmetode vir vervoer sien nie.

Die fietsryers kon ook hul fietse danksy BEN na hul voorkeur laat verander.

Dylan Victor het by die oorhandiging met toertjies op sy spesiale fiets vermaak.

You need to be Logged In to leave a comment.