STELLENBOSCH – Altesame 539 leerders van 350 skole uit agt provinsies het vanjaar aan die eindronde van die Sanlam-WOW-Spelfees – die grootste weergawe van dié jaarlikse kompetisie sedert die Covid-19-pandemie – deelgeneem.
Stellenbosch het behoorlik gegons met meer as 500 leerders van 350 skole van oor Suid-Afrika heen, wat na die Eikestad gereis het om in die nasionale eindronde van die 16de Sanlam-WOW-Spelfees te kom klank en spel.
“Die spelfees is een van die hooffokuspunte van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) en is deel van die provinsiale plan om taal in die provinsie te verbeter,” verduidelik Ebrahim Peck, die WKOD se onderwyskundige hoof van die intermediêre- en senior fase.
“Die spelfees is een van die belangrikste kontak- en interaksiepunte met die Universiteit Stellenbosch (US) se Woorde Open Wêrelde-inisiatief (WOW). Ons is trots om al jare hierby betrokke te wees.”
BEAMPTES VAN OORAL
Die spelfees is die vlagskipprojek van WOW, ’n bemagtigingsinisiatief deur taal- en kultuurprojekte by die US se afdeling vir sosiale impak en transformasie. Die onderskeie grade van elke taal is by lesinglokale van die universiteit ingedeel.
Vanjaar is ook die eerste jaar wat die spelfees ’n ombud by elke graad ingesluit het en aan wie ouers hul vrae kon rig. “Ek moet seker maak dat geen foute insluip nie. As ’n ouer nie met iets saamstem nie, nader hulle my en ons klaar dit uit,” verduidelik Denise Priga-Ritter, die ombud van die gr.1-leerders.
Al die beamptes van die spelfees is onderwysers van oral in die land.
“Almal wat hier werk, moet hulle laat tuis voel sodat die kinders dit net kan geniet. Al die beamptes moet liefdevol wees, want dit is ouers wie se kinders hier sit – hulle én die onderwysers moes baie opofferings maak,” sê Gail Saaiman, die spelfeesbestuurder van die gr.1-klas. “Ek het al baie plooie by WOW bygekry, maar geniet dit vreeslik.”
LEES OOK: Spelkoors in die Boland
‘GLAD VERLOOP’
Fiona van Kerwel, WOW se bestuurder, benadruk hoe belangrik dit is dat die spelfees ’n feestelike ervaring vir die jong deelnemers is. “Ons slyp nie net hul taalvaardighede nie, maar werk ook om aan hulle om hul selfvertroue te bou. Ons stel hulle bloot aan geleenthede by die US en ons wil dit as ’n vriendelike omgewing aan hulle bekendstel – een waar hulle ondersteuning het.
“Ons is dankbaar vir alle betrokkenes se harde werk; almal wat toegesien het dat die spelfees glad verloop het – alle beamptes, studente, personeel, borge en in besonder dankie aan ons WOW-leerders wat deur die jaar werk en van oral oor reis om hier te wees.”
Frank Louw, die projekbestuurder van die Sanlam-stigting, voeg by: “Dit is baie bevredigend om te sien hoe die kinders van die begin van die spelfees deelneem tot waar hulle vandag by die nasionale eindronde is.”
Vanjaar se Sanlam-WOW-Spelfees-wenners is:
Afrikaans
- Gr. 1: Nick Olivier van Kenhardt Primêr, Noord-Kaap.
- Gr. 2: Damien Swartz van St John’s Primêr, Noord-Kaap
- Gr. 3: Chadia Fransman van Prins Albert Primêr, Wes-Kaap
- Gr. 4: Lameequa Andries van Prins Albert Primêr, Wes-Kaap
- Gr. 5: Gideon Verster van Jordanië Primêr, Vrystaat
- Gr. 6: Rania Fransen van Prins Albert Primêr, Wes-Kaap
- Gr. 7: Ruan Maartens van die Laerskool Fairland, Gauteng
- Gr. 8: Chandré Vister van die Hoërskool Zwartberg, Wes-Kaap
- Gr. 9: Jané Stolper van die Hoërskool Upinton, Noord-Kaap
- Gr. 10: Venecia Cornelius van Saxonsea Sekondêr, Wes-Kaap
isiXhosa
- Gr. 6: Bongani Iminathi van Mbekweni Primêr, Wes-Kaap
- Gr. 7: Eminathi Sefa van Alfred Stamper Primêr, Wes-Kaap
- Gr. 8: Lisakhayna Gigi van Hoërskool Sophumelela, Wes-Kaap
Engels
- Gr. 4: Qhakazile Khumalo van Kanonkop Primêr, Wes-Kaap
- Gr. 5: Shandu Matumbu van Louis Trichandt Primêr, Limpopo
- Gr. 6: Kieran September, William Lloyd Primêr, Wes-Kaap
- Gr. 7: Leigh-Gaynon Adams van Perde Eiland Primêr, Noord-Kaap
- Gr. 8: Christel Manjoro, Apex Stellenbosch, Wes-Kaap
- Gr. 9: Husnaa Kapery van Hoërskool Nasruddin Islamic, Oos-Kaap





















