Alwyn Beetge en Pim Zouteriks het die pragtige staproetes van die Muratie-wynlandgoed geniet.


Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se hoofdoel is om geskiedenis en erfenis lewendig te maak.

Die afgelope naweek het die publiek en die FAK-Kultuurnetwerk in die Wes-Kaap, ’n verrykende geskiedenisstaptoer onderneem op die Muratie-wynlandgoed, ’n plaas met ’n geskiedenis byna so oud soos die land self.

“In ’n tyd wat ons erfenis soveel bedreiging en agteruitgang moet trotseer, was Muratie ’n verrykende en inspirerende ervaring – ’n plaas waar erfenis bewaar en vindingryk uitgestal word en die stories van die mense van hierdie plaas nagevors, vertel en onthou word,” verduidelik Elizma Smith, kultuur-koördineerder van die kultuurnetwerke in die Suidelike streke.

Die wynplaas, geleë in die Knorhoekvallei buite Stellenbosch, dateer uit 1685 en speel ’n belangrike rol in die geskiedenis van die area. Dit het ’n ryke geskiedenis van fassinerende mense wat nou verweef is met die ou Kaapse geskiedenis.

Sommer met die instap, sien jy die muur met die name en datums van al die eienaars van Muratie. ’n Duitse soldaat, Laurens Campher, was die eerste persoon wat in 1685 hier begin boer het. Goewerneur Simon van der Stel ken in 1699 Muratie, aanvanklik bekend as De Driesprong, amptelik aan hom toe met die volgende opdrag in die titelakte “bezaayen, beplanten, bepoten, betimmeren”.

Christianne Mengel en die Nederlander Sisca Habets was ingenome met die uitsigte op die plaas.

Die dapper stappers van FAK wat die verlede verken.

Victor Kessell by die ingang van Muratie met ’n interessante geskiedenis.

Die oorspronklike plaasopstal en groot eikeboom wat Campher vir sy vrou gebou en geplant het, staan vandag nog op die plaas. In een van die vertrekke in hierdie opstal word verskillende wyne van die plaas, vernoem na verskillende eienaars van Muratie deur die jare, keurig uitgestal in nissies in die mure.

Die oorspronklike titelakte kan ook besigtig word. In ’n ou wynkelder, vandag ’n proelokaal en restaurant, dui talle ou foto’s, skilderye, berigte, briewe en ander artefakte en selfs baie ou spinnerakke op een muur teen die venster hoe nie net geskiedenis nie, maar ook tyd op Muratie bewaar word.

In die restaurant hang skilderye van een van die voormalige eienaars, George Paul Canitz, ’n kunstenaar wat geïnspireer is deur die meesterstukke van die Renaissance era. Sy dogter, Alberta Annemarie, het die plaas na sy dood oorgeneem en was een van die eerste vroue in Suid-Afrika wat ’n wynplaas besit het en aktief betrokke was by wynmaak.

Die Vryburger en later invloedryke Kaapse grondeienaar, Martin Melck, het Muratie in 1763 gekoop. Sy nageslag het op die plaas geboer tot 1897. Ná bykans 90 jaar keer die Melck-familie in 1987 terug na Muratie, toe ’n direkte afstammeling van Martin Melck, Ronald Melck, die plaas koop. Sedertdien is die plaas in die besit van die Melck-familie.

“Bewusmaking lei tot liefde daarvoor, wat oorgaan tot bewaring en oorvertelling,” sê Juanine Kok, kultuurkoördineerder van die FAK. Daarom is dit belangrik dat geskiedenis op interessante wyses aan mense oorgedra word, want só sal dit behoue bly.

Sluit aan by die kultuurnetwerk in jou gemeenskap deur ’n e-pos aan Jaco Cilliers by jaco@kultuurtuiste.org.za te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.