Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub het Saterdag 23 November sy juniors tydens ’n prysuitdeling by die Metodistekerksaal in Vlottenburg vereer.
Toekennings is gemaak vir junior spanne van o.10 tot o.18. Die gasspreker was die skeidsregter Ephraim Manuel en hy het die jong spelers toegespreek oor respek, keuses en toegewydheid.
In sy toespraak het hy gesê dat as jy sport wil beoefen en ’n goeie sportman wil wees, moet jy verseker dat jy eerste op die oefenveld is, jou opwarming doen voor jou spanmaats of die afrigter opdaag as ’n bewys van jou toegewydheid aan die sport en jou span.
“Met die rugbyseisoen wat nou iets van die verlede is, het almal baie tyd beskikbaar en die keuses wat jy in die afseisoen maak om, byvoorbeeld te draf en jouself fiks te hou, sal in die voorseisoense oefeninge in Januarie vrugte afwerp,” het Manuel gesê.
“Vermy om betrokke te raak deur nou partytjie te hou en dan eers in Januarie met jou fiksheid te wil begin, dis ’n keuse wat jy nou maak, om reg te wees wanneer die rugbyseisoen vir 2025 te begin. Jy moet ten alle tye jou spanmaats, afrigters en bestuur respekteer deur te doen wat hulle van jou vra in die afseisoen, want jy kan dan net ‘n beter speler wees in Januarie.”
Hy het ook verwys na voormalige spelers wat onder sy hande as afrigter deurgekom het, soos die tesourier by Van der Stel-Evergreens, Hilton van der Vent, wat as kannetjie by hom begin het.