Twee jong digters van Franschhoek was onder die wenners van die 2023- Internasionale Skoolbiblioteekmaand-kompetisie, wat deur die provinsiale onderwysdepartement aangebied is.

Tristan Cyster en Sinoxolo Mcimbi het hul skole se name hoog gehou met hul gedigte in die kategorie vir gr.4- tot gr.7-leerders. Tristan, wat verlede jaar ’n gr.7-leerder aan Groendal Primêr was, het vir sy Afrikaanse gedig, “Die boekwurm”, gewen, terwyl Sinoxolo, ’n gr. 7-leerder aan Dalubuhle Primêr, vir sy isiXhosa-gedig vereer is. Beide leerders het R30 000 in biblioteek-hulpbronne vir hul skole gewen.

Die wenners van die kompetisie is verlede week op Wêreldboekdag (Dinsdag 23 April) deur die departement aangekondig. Die kompetisie is aan die einde van 2023, ter viering van Internasionale Skoolbiblioteekmaand, in vennootskap met die departement se opvoeding- en biblioteek-inligtingsdienste aangebied.

Die kompetisie se tema was #BackOnTrack with School Libraries en leerders kon met hul gedigte en kunswerke R30 000 wen vir hul skool om biblioteek-hulpbronne aan te koop. Die 2023-kompetisie het ’n paar afdelings gehad, insluitend ’n dig-afdeling vir leerders in gr. 4 tot gr. 7 en gr. 8 tot gr. 12, asook ’n plakkaat/teken-afdeling vir leerders in gr. 1 tot gr. 3 en skole vir leerders met spesiale leerbehoeftes.

Leerders is gevra om in hul inskrywing- spesifieke vrae in ag te neem: hoe help skoolbiblioteke leerders om ná die Covid-19-pandemie terug op koers te kom; indien daar nie ’n skoolbiblioteek is nie, hoe sal só ’n fasiliteit leerders help om weer op koers te kom; en hoe sal die wen van skoolbiblioteek-hulpbronne jou skool help.

Altesaam 190 inskrywings is ontvang.

“Ons bedank elke leerder wat die tyd geneem het om aan die kompetisie deel te neem, asook die onderwysers wat die leerders aangemoedig het om deel te neem en seker gemaak het dat die inskrywings by ons uitkom,” het David Maynier, provinsiale onderwysminister, gesê.

“Ons sien uit om te sien hoe hierdie skole die bykomende bedrae geld gaan aanwend om hul skoolbiblioteke te ondersteun, ten doel die leesvaardighede van die kinders in die Wes-Kaap te verbeter.”

You need to be Logged In to leave a comment.