Jeandre van Dyk, ’n slot van Van der Stel-Evergreens, bars weg met die bal in die wedstryd teen Langa in die Bergzicht-stadion. Chadlin Adams (stut) en Esrick Hensen (flank) is by om ondersteuning te verleen. VDE 2 is nog onoorwonne ná agt wedstryde en het Saterdag met 37-24 gewen. Foto: CS Photography


Die kompetisie om onder die eerste vier plekke in Superliga- B-rugbykampioenskap te eindig, bou nou momentum op, want Franschhoek, wat verlede week met sy buurman Van der Stel-Evergreens (VDE) afgereken het, het net-net die knoop deurgehak teen Belhar op sy tuisveld en met 34-33 gewen.

VDE het verlede week se verloorstryd op die ken gevat en is nou weer op koers nadat hy Langa met 50-25 in die Bergzicht-stadion geklop het.

VDE is tans tweede op die punteleer – een punt minder as Hands & Heart van Kraaifontein, teen wie die Stellenbossers eers weer Saterdag 22 Junie in aksie sal wees.

VDE en Hearts het albei loslootjies en sal maar die bewegings van spanne op die punteleer van die kantlyn dophou en voorberei vir hul kragmeting.

Kylemore ontvang Saterdag besoek van Vineyards, nadat hy die afgelope naweek ook ’n loslootjie gehad het.

In Superliga C moes Pniël Villagers die knie teen Scottsdene-Sentraal met 30-31 buig. Hulle speel Saterdag teen Gardens.

In die Noordelike liga is die kragmeting tussen Excelsior en Albions afgelas weens speelvelde in die Dal Josafat-stadion wat weens die volgehoue reën verlede week nie speelbaar was nie.

Raithby Universals het Gordonsbaai Pioneers op laasgenoemde se tuisveld met 8-30 afgeransel. Stellenbosch-Coronations het in die laaste minuut met 45-38 teen Windmeul verloor.

In die Suidelike liga het Blue Stars ’n besoek aan Noordelikes in Elsiesrivier gebring en met 24-8 gewen. Blue Stars het hierdie week ’n loslootjie.

  • Die wedstrydbepalings vir Saterdag 15 Junie is soos volg:

. Superliga B – Kylemore t. Vineyards (Paarl);

. Superliga C: Pniël Villagers t. Gardens (Oranjezicht); en

. Noordelike en Suidelike liga: Al die spanne het weens die langnaweek loslootjies.

You need to be Logged In to leave a comment.