Die jongste inbraak op Sondag 12 Oktober op die Courchevel-gasteplaas in Franschhoek is een van minstens agt die afgelope twee maande, beweer ‘n bron wat vertroud is met die vlaag inbrake wat dié toeristedorp tans teister.
Volgens die bron het die voorval tussen 01:00 en 01:30 plaasgevind en tegnologiese toerusting is gesteel. Kol. Frederick Russouw, die stasiebevelvoerder by die Franschhoek-polisie, het die voorval bevestig.
Rowers het glo in die vroeë oggendure drie mense – een Suid-Afrikaner en twee Amerikaners – wat in ‘n kothuis op Courchevel in Uitkykstraat geslaap het, oorrompel.
Dié plaas is ‘n klipgooi van die Chamonix-wynlandgoed en -gasteplaas waar gaste op 2 Augustus deur drie rowers oorrompel en só erg aangerand is dat hulle in die hospitaal opgeneem moes word nadat hulle van hul besittings beroof is.
LEES OOK: Nog ‘n rooftog laatnad op gasteplaas in Franschhoek
Volgens die bron, wat verkies om anoniem te bly, is die gaste op Courchevel nie beseer nie, maar wel vasgebind, waarna hulle die paniekknoppie gedruk het, wat nooddienste ontbied het. Russouw sê drie verdagtes word by die inbraak op Courchevel betrek.
ANDER VOORVALLE
Drie verdagtes word ook in verband met die inbrake op Chamonix, die Terra de Luc-gasteplaas op 8 Junie en die Val d’Or-landgoed op 31 Mei gesoek.
Vier vroue is op 8 Junie omstreeks 02:00 op Terra de Luc deur drie mans oorrompel. Die rowers het blykbaar twee vroue vasgebind en beveel om op hul maag te lê terwyl die ander twee vroue op die bed gesit het.
In die voorval op Val d’Or in Hoofstraat is ‘n soortgelyke modus operandi gevolg, waar drie mans toegang tot ‘n wooneenheid verkry en die twee gaste aangeval het deur een in die been te steek.
In al die voorvalle is elektroniese toestelle en juweliersware gesteel.
LEES OOK: Ondersoek ná aanvalle op plase in Franschhoek ‘sloer’
Russouw sê ‘n poging tot huisbraak is op 11 Oktober net voor middernag aangemeld toe iemand by ‘n ander perseel in Franschhoek probeer inbreek het.
‘BEKEND AAN GEMEENSKAP’
Die bron beweer dat die verdagtes blykbaar in Groendal tuis is. Een verdagte, ‘n man, is glo bekend aan die plaaslike gemeenskap en sy besonderhede is aan die Franschhoek-polisie oorhandig.
Die bron voer aan dat die polisie nog nie teen hierdie verdagtes opgetree het nie.
Russouw het in reaksie hierop gesê hy het nie die presiese syfers nie, maar het bevestig dat “ongeveer vier tot vyf sake van huisroof” hierdie jaar aangemeld is, asook ‘n onbekende aantal klagtes van huisbrake of diefstal op plase.
Volgens hom is die Franschhoek-polisie bewus van die drie verdagtes en hulle het ook reeds mense ondervra, maar niemand kon in hegtenis geneem word nie omdat geen verdagtes wat in die polisie se visier is, nog met die rooftogte op gasteplase verbind kon word nie.
Die bron sê hulle glo om hierdie voorvalle in die media te openbaar, sal die polisie in hul ondersoeke verantwoordbaar hou.
Die bestuur van Courchevel-gasteplaas wou nie op die gebeure kommentaar lewer nie.





