Foto ter illustrasie. Foto: Mel’s Mosaic/ webtuiste en blog

Twee jong susters het Dinsdagmiddag ‘n skokkende ontvoerpoging in Franschhoek oorleef nadat drie mans gepoog het om hulle uit hul ouma se voertuig te gryp.

Die voorval het omstreeks 16:15 voor ‘n plaaslike apteek plaasgevind. Die vier- en negejarige sussies het saam met hul hond in hul ouma se motor gewag terwyl sy binne besig was.

Volgens Kurt Maske, ‘n polisiereservis in Franschhoek, het drie mans – na bewering konstruksiewerkers – na die voertuig gestap en aan een van die vensters geklop. Die vierjarige het per ongeluk die motor se deur oopgesluit, waarna die mans probeer het om die kinders uit die voertuig te gryp.

Die negejarige suster het egter vinnig gereageer deur die deur toe te trek en alarm te maak deur te skree. Haar aksies het hul ouma na die voertuig laat haas, waarna die verdagtes gevlug het.

Lt. Kol. Frederick Roussouw het bevestig dat geen amptelike saak tot dusver by die Franschhoek-polisie aangemeld is nie.

Maske het egter beklemtoon dat soortgelyke insidente nie voorheen in die area aangemeld is nie, maar dat die moontlikheid van ‘n georganiseerde sindikaat nie uitgesluit kan word nie.

Die drie mans was geklee in oranje baadjies met twee swart strepe en groen moue, swart werkbroeke en vlootblou mussies.

Na die voorval het hulle na bewering in ‘n taxi weggejaag.

Enigiemand wat beeldmateriaal (CCTV of dashcam) van die omgewing van Hugenotestraat tussen Louis Botha- en Kerkstraat, om 16:00 en 16:30 op Dinsdag 9 Julie beskik, word dringend versoek om dit met Maske te deel. Lt. Kol. Frederick Roussouw het bevestig dat geen amptelike saak tot dusver by die Franschhoek-polisie aangemeld is nie.

Die gemeenskap word ook aangemoedig om waaksaam te bly en soortgelyke verdagte aktiwiteite by die polisie aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article