Die R45-Franschhoekpas, wat ná die Erfenisdag-langnaweek in September gesluit is nadat hewige reën uitgesak en modderstortings veroorsaak het, is nou oop – maar net vir ligte voertuie.
’n Gedeelte van die linkerbaan in die rigting van Villiersdorp het Sondag 24 September weggespoel, met rotsstortings op ander dele van die pad, het Eikestadnuus se susterskoerant, Paarl Post, Vrydag 6 Oktober aanlyn berig.
Die eerste voertuie het die oopgestelde pas Dinsdag 7 November om 17:00 oorgesteek, luidens ’n verklaring deur Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur.
“Die spanne het tydelike herstelwerk begin doen totdat die ingenieurs tevrede was dat die grondverskuiwings voldoende gestabiliseer is en die tydelike werk ’n punt bereik het waar die departement toegang vir ligte voertuie kan gee,” lui die verklaring.
Ligte motorvoertuie met ’n massa van vyf ton of minder sal dus van die pas gebruik kan maak, maar bestuurders moet daarop let dat net een baan vir ’n kort afstand oop is en vyf “gaan-voort-wanneer-veilig”- enkelbaangebiede elders geld. Werk aan permanente herstelwerk duur voort, en die departement van infrastruktuur voorsien dat dit steeds vir ’n aansienlike tydperk in aanbou sal wees voordat swaarder voertuie toegelaat en dit vir tweerigtingverkeer oopgestel sal word. “Tydelike sluitings is hoogs waarskynlik gedurende die konstruksietydperk,” het Simmers gewaarsku.
Buiten dié brokkie goeie nuus het die nasionale rampbestuursentrum in sy jongste omsendbrief die September-oorstromings as ’n nasionale ramp vir die Wes- en Oos-Kaap verklaar.
Volgens Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, maak die rampklassifikasie dit vir die Wes-Kaapse regering moontlik om die nasionale rampbestuursentrum vir finansiële hulp te nader om die opgraderingswerk aan infrastruktuur te help finansier.
Die skadebepaling vir die Wes-Kaap se September-oorstromings staan tans op R441 miljoen vir provinsiale infrastruktuur en ’n verdere R154 miljoen vir munisipale skade.
“Die Wes-Kaapse regering sal nou die nasionale rampbestuursentrum versoek om die nasionale tesourie met hierdie syfers te nader.
“Geen sekerheid bestaan oor hoeveel of wanneer ons enige ondersteuning van die nasionale regering sal ontvang nie. Die provinsiale regering sal bestaande begrotings herprioritiseer en met ons eie herstel voortgaan,” het Bredell gesê.
Volgens die jongste syfers is 22 paaie tans in die Wes-Kaap gesluit aangesien herstelwerk aan paaie wat gemeenskappe verbind en paaie wat vir ekonomiese aktiwiteite noodsaaklik is, voorkeur kry.