Verskeie ondernemings in Franschhoek se hoofstraat het verlede week vloedskade opgedoen.Foto’s: Rasaad Adams


Terwyl die Wes-Kaapse regering se afdeling vir paaie en infrastruktuur nog geen aanduiding kan gee van hoe lank herstelwerk aan die R45- Franschhoekpas kan duur nie, het die Stellenbosch-munisipa­liteit aangedui skade aan infrastruktuur in Fransch­hoek weens verlede week se verwoestende oorstromings kan miljoene rand beloop.

Die Franschhoek-pas sal vir ’n onbepaalde tydperk gesluit wees nadat ’n deel van die linkerbaan in die rigting van Villiersdorp weggespoel het.

Met besoek aan die gebied Maandag (2 Oktober), was daar ook rotsstortings op andere dele van die pad asook bome wat weens die sterk wind omgetuimel het.

Die R45 wat deur die dorp loop was Maandag ook nog op verskeie plekke vol grond wat saam met die vloedwater gekom het.

Die plaaslike toerismekantoor in die dorp is erg geraak en was Maandag nog tot byna teen die dak met grond gevul.

Dié kantoor asook ander kleiner ondernemings soos Terbodore Café moes noodgedwonge hul deure sluit terwyl opruimingswerk aan die gang is.

Benewens die vloedskade wat talle ondernemings en enkele huishoudings ervaar het, sê die Stellenbosch-munisipaliteit die ergste deel van sy opruiming is vir eers afgehandel.

“Franschhoek lyk baie beter as wat dit ’n week terug gelyk het. Die hoofstraat is Woensdag (27 September) weer vir verkeer geopen.

“Sowat 130 vragte grond en klippe is van die pad verwyder,” het Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, gesê.

Volgens Grobbelaar het die Dirkie Uys- en Akademiestraat- brûe weggespoel en moet dit heeltemal herbou word.

In Fabriekstraat was tegniese spanne ook Maandag nog besig met herstelwerk weens ernstige skade aan dié pad.

Grobbelaar het gesê die kragtoevoer na alle gebiede wat voorheen geraak is, insluitend drie plase in die Wemmershoek-omgewing, is intussen herstel.

Hy het verduidelik dat die munisipaliteit ’n kontrakteur moes aanstel nadat ’n rouwaterpyp by die Franschhoek-watersuiweringsaanleg in die oorstromings beskadig is. Die pyp behoort binne twee dae herstel te wees, het Grobbelaar gesê.

Die Franschhoek-pas is een van talle provinsiale paaie wat verlede week in die slag gebly het.

Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur en mobiliteit, het gesê die departement sal nie in dié stadium ’n syfer wil plaas op die omvang van die skade aan paaie en infrastruktuur nie.

“Ons sal nie nou wil bespiegel nie – veral omdat ons nog nie by alle paaie op die netwerk uitgekom het nie.”

Hy sê die departement werk in oorleg met sy ingenieurs en hy hoop om ’n voorlopige verslag teen môre (Vrydag 6 Oktober) te ontvang.

Volgens Bakker is die meeste provinsiale paaie wat verlede week gesluit was, weer oop of gedeeltelik oop vir verkeer, met stop-en-ry-stelsels wat op sekere plekke gebruik word.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het Saterdag (30 September) vloed-geteisterde gebiede in die Breedevallei-munisipaliteit, waar talle mense verlede week dakloos gelaat is, besoek.

“Die omvang van die skade is baie ernstig en dit gaan ons ’n rukkie wat om hiervan te herstel.

“Ons moet uit hierdie natuurramp asook dié van die verlede leer.

“Toekomstige beplanning en voorsorg is krities te midde van die impak van klimaatsverandering,” het Winde ná die oorsigbesoek beklemtoon.

You need to be Logged In to leave a comment.