Die Franschhoek-polisie het Saterdag (16 Augustus) ‘n 55-jarige man by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem wat verdink word van die seksuele misbruik van minderjariges en die vervaardiging van kinderpornografie.
Dit hou verband met videos wat vroeër vanjaar aanlyn versprei is waarin hy glo seksueel verkeer met twee tienermeisies.
Een van die tienermeisies was in haar skooldrag.
Die polisie se eenheid teen reeks- en elektroniese misdade (SECI) het Saterdag beslag gelê op die man se selfoon, het kol. Frederick Rossouw, bevelvoerder by die Franschhoek-polisiekantoor, by navraag gesê.
Rossouw het bevestig dat die man aangekla sal word van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie.
Hy sal in die Stellenbosch-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.

Paarl Post het betroubaar verneem dat die polisie al vir ‘n geruime tyd die man se bewegings dopgehou het.
Hy het in ‘n stadium by vermoedelik familielede in die Strand gaan kuier toe gemoedere hoog geloop het in Franschhoek toe die videos begin sirkuleer het.
Die polisie het aanvanklik eers ‘n lasbrief bekom om beslag te lê op sy selfoon en die inhoud daarvan af te laai.
“Hy was waarskynlik bewus dat die polisie opsoek was na hom en dis hoekom hy Strand toe gehardloop het. Min te wete, die polisie het presies geweet waar hy was.
“Al het hy ook daai videos delete, die polisie het spesiale eenhede wat sal weet hoe om dit op te spoor asook enige boodskappe wat tussen hom en die tienermeisies gestuur was,” het ‘n betroubare bron na aan die saak Saterdag gesê.
‘n Gemeenskapsaktivis, wat ook Saterdagoggend buite die man se Franschhoek-woning was, het sy inhegtenisneming verwelkom.
“Ons was deur die polisie gevra dat ons nie hom mag afneem weens privaatheid nie. Sy sake het egter die gemeenskap se sake geword die dag toe hy besluit het om met skoolkinders te mors,” het die aktivis gesê.



You must be logged in to post a comment.