Morné Williams, flank van die Franschhoek-rugbyklub, kuier agter die doellyn in sy span se sege teen Kraaifontein op Saterdag 14 September.Foto: Emile Krotz


Die Franschhoek-rugbyklub het Saterdag 21 September weer by die laaste hekkie gestruikel in die uitspeelwedstryd vir promosie-relegasie teen SK-Walmers (SKW) op City Park, toe hulle met 48-29 die knie moes buig.

Dit beteken Franschhoek speel weer volgende jaar in Superliga B, die vyfde agtereenvolgende jaar, terwyl SKW sy plek in Superliga A behou.

Tot en met rustyd het Franschhoek gehou teen die wind en almal het verwag dat die wind agter hul blaaie in hul guns sou tel. SKW was vanjaar in Superliga A die span wat ander in die doodsnikke kom klop het, maar hulle het dié keer die krane behoorlik in die tweede helfte oopgedraai om die oorwinning te beklink.

Met Franschhoek uit die prentjie is dit net Van der Stel-Evergreens (VDE) en Maties wat in 2025 in Superliga A die Stellenbosch-streek se naam hoog sal moet hou. Dit sal ook die eerste keer wees na meer as 20 jaar dat twee Stellenbosse spanne in Superliga A, voorheen bekend as die Groot Uitdaagbeker, in aksie sal wees.

Rugbyondersteuners kan nou al hul lippe aflek vir die derby, want VDE is die tweede span in Superliga A, naas St George’s, wat elke jaar promosie tot Superliga A-status verwerf het. VDE se opgang sedert sy ontstaan in 2017, is ’n prestasie wat nie gering geskat moet word nie, en verdien ’n kloppie op die skouer.

In die Superliga B/Superliga C-uitspeelstryd tussen Strand en Goodwood, was laasgenoemde te sterk en het Strand met 29-7 huis toe gestuur. Goodwood speel dus in 2025 in Superliga B terwyl Strand na Superliga C gerelegeer is.

In die agtste ronde van die Promosieliga is Blue Stars van Klapmuts stert tussen die bene huis toe gestuur toe Delft hulle met 26-22 geklop het. In dieselfde liga het Watsonia nie vir Young Wesleys kans gegee om te herstel van drieë wat gedruk word nie en hulle met 65-10 ’n rugbyles geleer. Violets was ook op die oorlogspad teen Albions met hul sege van 38-12, terwyl Sir Lowrians met 33-26 met Silvertree afgereken het.

Alle oë van Stellenbosch en omgewing was gerig op die Challengerbeker-halfeindstryde waar die twee buurspanne, Stellenbosch-Coronations en Raithby Universals onderskeidelik in aksie was teen Elsiesrivier en Morningstar. Corries het met 23-19 gewen, terwyl Raitby Universals die Springbokke nagevolg het om Morningstar met een punt 20-19 te klop. Die twee buurspanne kom in die eindstryd teen mekaar te staan.

You need to be Logged In to leave a comment.