Die tweede Franschhoek-kamermusiek- en kunsfees, wat van 23 tot 26 Februarie in Franschhoek plaasvind, sal nie net ’n uitsonderlike viering van wêreldklas-kuns en -kamermusiek wees nie, maar feesgangers sal ook saam met van die uitgesoekte kunstenaars kan kuier.
Elf bekende visuele kunstenaars – sommige van Franschhoek, maar ook bekende kunstenaars van omliggende gebiede, waarvan baie internasionale aansien geniet – sal hul jongste skeppings vertoon en met die feesgangers in gesprek tree oor hul werke en dit waarmee hulle besig is.
Alisha Erasmus, die feeskoördineerder, sê ’n unieke aspek van die fees is juis om feesgangers ’n intieme ervaring te bied deurdat hulle tussen konserte interaksie met die musici en kunstenaars sal kry.
Die elf konserte is juis oor die vier dae geskeduleer sodat feesgangers ook die kunsuitstallings sonder tydsdruk kan besoek, tyd saam met van die kunstenaars en musici kan deurbring en by talle aantrekkings in die dorp kan gaan inloer. Leerders van Bridge House se werk sal ook uitgestal word.
- Besoek www.fcmf.co.za vir die volledige program en besonderhede van die kunstenaars en om kaartjies te koop.