Marshall Julies, Van der Stel-Evergreens-vleuel, op pad doellyn in Saterdag se o.20-kragmeting teen Kylemore. VDE het met 29-10 gewen en sal Saterdag sy momentum teen Franschhoek wil behou. Foto: CS Photography


Die Franschhoek-rugbyklub is oorgehaal om sy onlangse nederlaag van 22-17 teen Langa op sy tuisveld teen Van der Stel-Evergreens (VDE) te wreek wanneer die buurspanne mekaar Saterdag (1 Junie) in ’n Superliga B-wedstryd in Franschhoek die stryd sal aansê.

VDE het op sy beurt verlede naweek Kylemore met 37-27 geklop.

Met nog ses ligawedstryde oor probeer al die spanne in die liga om agterstande uit te wis en in te haal op hul uitstaande wedstryde.

In Superliga C het Pniël Villagers net-net daarin geslaag om Primrose met 30-29 te klop. Die wedstryd is ontsier toe drie rooikaarte en twee geelkaarte vir vuilspel in die laaste vyf minute aan Primrose uitgedeel is.

Pniël Villagers het komende Saterdag ’n loslootjie en daar sal nou aandag gegee word aan beserings en om die span weer slaggereed te kry vir sy volgende kragmeting teen Scottsdene-Central op tuisbodem Saterdag 8 Junie.

In die Noordelike liga het Stellenbosch-Coronations en Gordonsbaai Pioneers met 18-18 gelykop gespeel.

Albions was te sterk vir Sir Lowrians. Laasgenoemde moes met 41-24 met die kous oor die kop huiswaarts keer.

Raithby Universals het ook ’n naelskraapse oorwinning van 23-22 oor Excelsior in Cloetesville behaal.

Coronations en Excelsior het albei Saterdag ’n loslootjie, terwyl Raithby Universals en Windmeul United kragte sal meet.

In die Suidelike liga speel Blue Stars van Klapmuts teen Watsonia nadat Blue Stars die afgelope twee naweke sy kleedkamers as deel van sy spanbousessie oorgedoen het.

You need to be Logged In to leave a comment.