Die voertuig in die Franschhoekpas waarvan die bestuurder op 12 Januarie padsluitingsborde verontagsaam en die pas gebruik het.Foto:


Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het motoriste gewaarsku om nie die padsluitingsborde by die Franschhoekpas te ignoreer nie en die pas slegs binne spesifieke tye te gebruik.

Dít volg nadat ’n motoris die pas verlede Vrydag (12 Januarie) buite die toegelate tye gebruik en byna ’n ongeluk veroorsaak het. “Ons kry verslae dat konstruksiewer­kers verontagsaam word en voertuie moet laat verbykom vir hul eie veiligheid aangesien voertuie eenvoudig deurry. Op een foto word ’n luukse sedan gesien terwyl dit verby die hyskraan druk.

“Dié motorvoertuig het blykbaar skade opgedoen tydens ’n maneuver om met geweld toegang tot die gebied te verkry. Hierdie gedrag bring werk tot stilstand, wat ’n tyd- en daaropvolgende begrotingsimplikasie het.

“Dit het ook ’n negatiewe impak op wanneer die hyskraan geskuif kan word om middag- en naweekverkeer toe te laat, wat die daaglikse heropening vertraag,” lui ’n mediaverklaring van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur.

Jandré Bakker, ’n woordvoerder van die plaaslike departement van infrastruktuur, het per e-pos verduidelik dat die voertuig beskadig is toe die motoris tussen die hyskraan, wat op die ryoppervlak gestaan het, en die sementversperring wat teen die berg geplaas is, ingedruk het.

Die persverklaring waarsku die publiek dat hulle nie sal huiwer om die pad te sluit indien nog sulke voorvalle plaasvind nie.

“Hierdie besluit sal geneem word op grond van padgebruikersgedrag sondedr enige tydlyn hieraan verbonde. Indien die onverantwoordelike padgedrag voortduur, sal [die plaaslike departement van infrastruktuur] die besluit heroorweeg om verkeer deur die pas, buite werksure, te akkommodeer. As hierdie swak gedrag voortduur, is die doeltreffendste opsie om die pas ten volle te sluit,” volgens Bakker.

“As padgebruikers die sluiting respekteer, sal dit nie nodig wees om die pas heeltemal toe te maak nie,” het hy gesê.

Hoewel die pad tydelik oop is, moet nog baie werk gedoen word en motoriste kan hulself regmaak om die pas eers in 2025 “of selfs later” ten volle te gebruik.

Sluitingstye op die Franschhoekpas is as volg: Maandae tot Vrydae 08:00 – 16:59, terwyl dit heeldag oop is oor naweke.

Dit is nie duidelik of die motoris wat op 12 Januarie onwettig toegang tot die pas verkry het, vervolg sal word nie.

Navrae is Dinsdag (16 Januarie) aan die provinsiale departement van vervoer en openbare werke gerig, maar teen druktyd is geen kommentaar ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.