Pniël se komvandaankind het al weer geboorte geskenk. Dít was die woorde wat by my opgekom het onderwyl ek op pad was na Gameeda Henry se boekbekendstelling in haar tuisdorp, Pniël. Dis haar sesde selfpublikasie wat sy op 16 Desember 2022 (Versoeningsdag) vrygestel het.
Vir ’n beter dag kon sy nie vra nie, want haar nuutste digbundel, Padkos, verwoord die hartversoening op soveel vlakke.
Nie eens die gure weer, wat ’n buitengewone storm vir die dag voorspel het, kon die opgewondenheid onder die getroue, uitgesoekte gaste demp nie. Almal wou daar wees, want die meeste (indien nie almal nie), het al op die een ander wyse met die betowerende skryfkuns van Henry te doen gekry. Haar nuutste werk was geen uitsondering nie. Soos met haar vorige digbundels het haar nuutste publikasie die hart en siel van die leser en gehoor opnuut geroer.
Voorlesings deur Henry, haar broer David Cyster, een van haar oudleerders, Desonia Hartogh, en ’n laerskoolvriendin, Elizabeth Whitlowe, het behoorlik die verbeelding van die gehoor aangegryp.
Dr. Eleanor Damon, Henry se suster, het die gaste ’n kykie gegee wat agter die geboorteproses van elkeen van haar publikasies en ander lofbetuigings versteek was.
Dr. Beryl Botman, eggenote van wyle prof. Russel Botman, was een van die uitgelese gaste en het oor haar nuutste publikasie met Henry in gesprek getree. Hierdie insiggewende gespreksessie oor haar digbundel het die gehoor ’n ander kant van Henry laat sien. Dr. Botman het met haar kundige vraagstelling die ware vernuf van die skrywer blootgelê.
Een van die skrywer se talle positiewe aspekte, wat in die gespreksessie uitgelig is, het beklemtoon dat sy – soos in haar vorige publikasies – altyd waarheidsgetrou aan haar unieke aanslag en styl as digter is; sonder pretensie, deernisvol en met ’n vlymskerp oog vir observasie, wat die leser telkens verras en met haar digterlike vermoë verryk.
Die bekendstelling van Padkos het vriende van Henry so ver terug as haar kollegedae byeengebring, en die dag was ’n viering daarvan ook. ’n Vraag-en-antwoordsessie uit die gehoor het opnuut bevestig dat die skrywer die hart van ’n versoener versinnebeeld. Vriende en familie uit haar Moslem- sowel as haar Christen-agtergrond kon nie uitgepraat raak oor die absolute trots wat hulle vir die skrywer se prestasies ervaar nie. Dit is ’n opmerking van Paul wat my lank ná die boekbekendstelling sal bybly. “Gameeda is nou maar eenmaal soos die gom in ons familie. Sy beskik oor die vermoë om almal bymekaar te hou. Haar skryftalent, wat selfs waarhede oor ons familie aanraak, bring ons gewis nog nader aan mekaar.”
Henry het met Padkos opnuut kom bevestig dat dit nooit te laat is om jou droom te leef nie – selfs nie eens ná haar aftrede as onderwyseres by die Hoërskool Cloetesville, waar sy 39 jaar onderrig gegee het nie. Met soveel uitdagings wat ons land in die gesig staar, het sy haar gehoor en toekomstige lesers van haar digbundel op Versoeningsdag 2022 ’n sweempie nuwe hoop gebring.
Haar nuutste digbundel is beskikbaar teen R150. Kontak haar gerus by 082 722 2773 om jou eksemplaar van die boek te bestel.