Die meeste Stellenbossers ken haar as “die tannie van Die Blomstalletjie” of die vriendelike gesig in die fraai stalletjie oorkant die Eikestad Mall – iemand wat die mooiste blomruikers kan optower.
Gaye Barbour gesels oor die nege jaar wat sy as bloemis die historiese Blomstalletjie bestuur. Die Blomstalletjie is bykans 50 jaar gelede deur ’n professor aan die Universiteit Stellenbosch se vrou, wat self ’n bloemis was, opgerig. Gaye is ná die vorige eienaar se besluit om af te skaal, genader om Die Blomstalletjie oor te neem.
“Ek het elke dag in die bloemiste ingestap en gevra ‘Hoe kan ek help? Hoe kan ek help? Hoe kan ek help?’ en my gesig het heel eerste opgekom toe die eienaar Die Blomstalletjie aan iemand anders wou oorgee,” vertel sy.
In daardie stadium was Gaye op soek na ’n werksgeleentheid, en toe die eienaar haar kontak, was dit vir haar ’n gelukkige toeval – veral omdat sy van jongs af ’n voorliefde vir blomme koester. “Blomme was altyd deel van ons familie.”
Sy herroep herinneringe uit haar kinderdae.
“Ons het altyd blomme in ons huis gehad – in die kombuis en in die slaapkamers. My tannie was baie goed met blomme en het altyd Saterdae blomruikers gemaak. Ek het gedink dis normaal.”
‘spesiale oomblikke’
Gaye het aan die Universiteit van Kaapstad studeer en ná haar studies in die toneelwêreld gewerk. Haar tannie het haar aangemoedig om haar liefde vir blomme uit te leef en sy het besluit om in te skryf vir ’n kursus wat deur die bekende bloemis Joan Pare in Constantia aangebied is.
Toe die geleentheid om die leisels van die sakeonderneming oor te neem, oor haar pad kom, het sy geweet dat dit so moet wees en dit met albei hande aangegryp.
Vir Gaye gaan haar werk oor veel meer as ’n blote inkomste en tydverdryf; sy wil ’n nalatenskap aan die volgende geslag oorlaat.
“Ek het ’n droom om meer van die stalletjies in Stellenbosch op te rig en mense op te lei om met blomme te werk.”
Sy het reeds die planne om só ’n inisiatief van stapel te stuur, maar sê sy net nog nie die regte span om die eerste saadjie te plant nie.
Buiten dié droom, gaan haar werk uit en uit oor haar passie vir blomme – en dit straal uit haar.
“As ek ’n ruiker maak, voel ek soos die ontvanger en dan skep ek ’n blomme-portret wat hulle gelukkig maak.”
Die oomblik wanneer sy die bos blomme aan ’n kliënt oorhandig en hulle ’n wow-oomblik ervaar, weet sy sy het hulle reg gelees – en dit is die oomblikke wat haar werk vir haar die moeite werd maak.
Gaye het natuurlik ook al baie harte heelgemaak en gehelp om nuwe verhoudings te vestig.
Daarvan kan die rye en rye studente getuig wat tydens Valentynsdag of huisdans-seisoen voor Die Blomstalletjie ophoop om die spesiale mens in hul lewe met Gaye se blomme te bederf.
Sy geniet dit om met die studente te werk. Hul entoesiasme vir blomme simboliseer vir haar die toekoms en dit bring vir haar plesier en hoop om te weet dat die jongmense nog deel van spesiale oomblikke is – en dis natuurlik wat blomme simboliseer.
deel mense se lief en leed
Maar dis natuurlik nie altyd net maanskyn en rose om met blomme te werk nie, tog bied haar werk haar bevrediging.
Gaye gesels ook oor die “donker oomblikke”, wanneer sy blomruikers moet maak vir hartseer geleenthede soos die dood van ’n geliefde en so meer.
Tóg, selfs in daardie tye, troos sy haarself daarmee dat haar kleurvolle blomme ’n bietjie troos en geluk sal meebring.
“Ek dink baie mense ry hier verby en dink ‘Waarmee is die vrou doenig?’, of meen ek kan geld maak deur iets anders te doen,” sê Gaye.
Maar vir haar gaan dit oor die deel van mense se lief en leed – en dit kry sy gewis reg.
Tydens Eikestadnuus se besoek aan die stalletjie was dit duidelik sigbaar hoe sy elke kliënt se ruiker byna magies bymekaar weef – elke ruiker gemaak om die kliënt se behoefte te bevredig. Een soek ’n kleurvolle ruiker vir ’n vriendin en ’n ander ’n bietjie “son” vir haar huis.
Gaye se menslikheid en vertroue in die mensdom kom ook na vore toe die kaartmasjien buite werking is en sy bloot die student vra om die volgende dag terug te kom om die ruiker te betaal. Hieroor gevra, sê sy: “Agt en negentig (persent) van die mense sal terugkom; blomme-mense is ’n spesiale groep mense.”
Tradisie is nie net in die stalletjie ingeweef nie, maar ook in die blomme wat ’n mens hier kry. Gaye probeer om so ver as moontlik haar blomme plaaslik te verkry. Die sonneblomme wat aan haar verskaf word, kom van dieselfde plaas wat 50 jaar gelede aan die eerste eienaar van Die Blomstalletjie gelewer het. Verder pronk daar ook ’n paar ander plaaslike produkte soos heuning en portrette op die rakke.
As jy dus ooit op die nippertjie ’n verjaarsdaggeskenk vir ’n geliefde moet kry of bloot net ’n bietjie sonskyn nodig het, loop net in Andringastraat af en loer by Die Blomstalletjie in.