Lede van die Pniël-gemeenskap en toegewyde rugbyspelers van die Pniël Villagers-rugbyklub het Saterdag (16 November) kragte saamgesnoer en in ’n vreedsame optog na die plaaslike munisipale kantoor opgeruk.
Die optoggangers, gelei deur die rugbyklubvoorsitter, Winston Stubbs, het gevra vir die dringende verskaffing van basiese dienste – veral die herstel van die spreiligte by die rugbyveld van die Pniël-sportterrein.
“Die optog het die krag van solidariteit en respekvolle betrokkenheid getoon. ’n Memorandum, wat hierdie kritieke kwessies uitlig, is aan Athenkosi Lisa Quluba, die hoofinspekteur van die Stellenbosch-munisipaliteit, oorhandig,” het Stubbs gesê. “Ons waardeer die betrokkenheid en ondersteuning van die Coronations-krieketklub, Lanquedoc All Stars en die Pniël-rolbalklub.”
Met die nuwe rugbyseisoen wat oor die volgende twee maande afskop, is die herstel van die spreiligte ’n topprioriteit vir die spelers en die breër gemeenskap. Stubbs hoop dat hierdie gemeenskapsamewerking deur inwoners en plaaslike sportlui tot vinnige aksie sal lei en sal verseker dat alle basiese dienste voor die aanvang van die seisoen ten volle funksioneel is.
Die herstel van die ligte is een van die vele kwessies wat in die memorandum uitgelig is. Die herstelwerk aan die spreiligte is blykbaar al meer as drie jaar nie gedoen nie, ondanks ’n toegekende tender.
“Dit is onaanvaarbaar en het ’n beduidende invloed op aand- oefensessies en wedstryde,” het Stubbs benadruk.
“Ons versoek dringend ’n opdatering oor die vordering en eis ’n tydraamwerk vir die voltooiing van hierdie projek. Die dreineringstelsel van die rugbyveld is onvoldoende. Gedurende die winter en ná reënval bly die veld onspeelbaar. Ons benodig ’n behoorlike dreineringstelsel om te verseker dat die veld deur die jaar benut kan word.”
Die hokkies waar plaasvervangers tydens wedstryde sit, is ook in ’n toestand van verval en benodig dringende instandhouding om die spelers van basiese gerief en waardigheid te voorsien. Die beamptes wat die hek gedurende wedstryde bestuur, het geen fasiliteite om te sit of geld veilig te hanteer nie, met die betogers wat vra vir ’n hokkie of skuiling by die ingang van die fasiliteit.
“Die dak van die stadion lek, wat tydens wedstryde ongemak vir toeskouers veroorsaak. Dit ontmoedig bywoning, wat lei tot verminderde inkomste vir ons klub,” het Stubbs gesê.
“Herstelwerk aan die dak moet voorkeur geniet. Die kleedkamers en stortgeriewe vir spelers is in ’n swak toestand en ver onder aanvaarbare standaarde. Onmiddellike opknapping is nodig.
“Ons erken dat die hoofspreiligte moontlik nie in die korttermyn ten volle herstel kan word nie. Ons vra egter dringende aanpassings aan die helderheid van die bestaande ligte om ten minste plaaslike wedstryde en oefensessies moontlik te maak.
Die huidige enkele veld (B-veld) kan nie al ons spelers hanteer nie. Ons benodig dringend ligte op die B-veld om oorlading te verlig en voldoende geriewe vir alle spelers te voorsien.”
Quluba het die optoggangers verseker dat die memorandum direk aan Stellenbosch se burgemeester, Gesie van Deventer, oorgedra sal word.
Stubbs het benadruk dat die kwessies op die veld nie net die klub en sy lede raak nie, maar ook die breër gemeenskap. “Rugby is ’n hoeksteen van ons sosiale en kulturele lewe in Pniël. Ons eis ’n reaksie van die munisipaliteit met duidelike planne vir aksie.
Ons sien uit na die burgemeester se dringende aandag en oplossing vir hierdie langlopende kwessies,” het hy bygevoeg.
Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, het by navraag gesê: “Ons neem kennis van die memorandum wat deur inwoners oorhandig is. Die munisipaliteit bestudeer tans die inhoud daarvan en sal op al die punte reageer.”