Die stryd teen die ontwikkeling van ’n luukse woonbuurt teen die hange van Botmaskop het Woensdag (16 April) ’n hupstoot ontvang nadat die Kaapse hooggeregshof enige verdere konstruksiewerk tot halt geroep het.

Dit uitspraak kom nadat die Stellenbosch-belangegroep (SBG) verlede November ’n aansoek teen onder meer die Stellenbosch-munisipaliteit, die Botmaskop-huiseienaarsvereniging en die ontwikkelaars van die projek Botmaskop Fynbos-landgoed, gebring het. Die belangegroep het aansoek gedoen vir ’n tussentydse interdik om die residensiële ontwikkeling met 77 eenhede vir eers stop te sit.

Die SBG meen die natuurskoon van Botmaskop waar die ontwikkeling geleë is, wat aan ’n gedeelte van die berg grens wat onder stappers en fietsryers gewild is en waar die plaaslike plantkundige dr. Brian du Preez onlangs ’n bedreigde spesie van die Moraea-plantfamilie ontdek het, sal in die slag bly.

Die SBG voer aan die omgewingsmagtiging wat in 2021 deur die provinsiale departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning goedgekeur is, is nie geldig vir die huidige projek nie. Hulle meen ook die skade wat verder aan die berg weens die ontwikkeling aangerig sal word, sal “katastrofiese gevolge” hê.

Die saak is in Februarie deur regter Melanie Holderness aangehoor, wat haar uitspraak oor die saak voorbehou het.

Holderness het Woensdag gesê die hof het genoegsame bewyse onder oë gehad om die tydelike interdik teen die Botmaskop Fynbos-landgoed toe te staan. Geen verdere bouwerk of ander werk mag nou deur die ontwikkelaar gedoen word nie.


You need to be Logged In to leave a comment.