Die Suid-Afrikaanse Terroir-wyntoekennings word vanjaar vir die 19de keer aangebied.


Die Suid-Afrikaanse Terroir-wyntoekennings word vanjaar vir die 19de keer aangebied en het ’n belangrike gebeurtenis op die land se wynkalender geword.

Dit bied wynmakers die geleentheid om die vele grond- en klimaatsterreine te vertoon, wat die skep van unieke en buitengewone wyne moontlik maak, sê Christo Pienaar, die voorsitter van die SA nasionale-wynskouvereniging (SANWSV).

“Ons verskeidenheid wyngebiede is ’n perfekte voorbeeld van SA se internasionaal gerespekteerde landboukundigheid. Die hoogstaande gehalte wyndruiwe wat van vele kultivars en in wyd-uiteenlopende terreine (terroirs) verbou word, lewer oor die jare uitnemende wyne by hierdie toekennings op.”

Slegs wyne wat deur die wyn-en-spiritus-raad as wyne van oorsprong is van ’n spesifieke wyk, ’n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, landgoed-geproduseerde wyne en enkelwingerd-wyne, mag vir die terroir-kompetisie ingeskryf word.

Die kompetisie is uit die staanspoor gegrond op die Wyn van oorsprong-stelsel, wat in 1973 ingestel is en die kompetisie is trots daarop om die stelsel te eerbiedig wat verlede jaar 50 jaar van uitnemendheid in die wynbedryf gevier het.

Uit al die wyne wat vir die toekennings ingeskryf word, word ’n nasionale wenner van elke kultivar en wynstyl aangewys. Die topwyne van die onderskeie kultivars en style uit elk van die verskillende gebiede word ook aangekondig. Terselfdertyd wys die beoordelaars die trofeewenners uit die geledere van die nasionale wenners aan – laasgenoemde wat bestaan uit trofeë vir die beste enkelwingerd-wyn, beste landgoed, beste terroir-produsent, beste omgewing en algehele topwyn uit al die inskrywings.

Gedurende die afgelope jaar het die afbakeningskomitee van die wyn-en-spiritus-raad vier nuwe produksiegebiede toegevoeg: twee wyke (Keeromsberg en Rooikrans in die Worcester-distrik), die Karoo-Hoogland-streek (wat die Sutherland-Karoo-distrik insluit wat in 2010 afgebaken is) en die geografiese eenheid van die Noordweste.

Die toekennings word in samewerking met die finansiële vennote SA Litho en WinField United SA aangebied, met die OntbytSAKE-program op kykNET as mediavennoot.

Inskrywings vir vanjaar se kompetisie is reeds oop en sluit Woensdag 12 Junie, met laat inskrywings tot Vrydag 21 Junie. Aflewering van monsters vir beoordeling vind Donderdag 20 en Vrydag 21 Junie plaas en beoordeling van Woensdag 3 tot Vrydag 5 Julie. Die wenners word Woensdag 14 Augustus by ’n middagete aangekondig.

Volgens Marius Labuschagne, die stigter van die SA Terroir-wyntoekennings en ’n die legendariese wynkenner en bekende wynskrywer, “beklemtoon die kompetisie die Kaapse-wynland se unieke terroir en veelsydigheid om topgehalte wyne van wyd-uiteenlopende druifkultivars te maak”.

“Die rol van wingerdbouers, op hul beurt, is uiters belangrik om die regte kultivars in die regte terroir te verbou en daardeur topgehalte wyne op te lewer.”. Rig alle navrae aan Elsabé Ferreira by 021 863 1599 of per e-pos by admin@terroirwineawards.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.