‘n Welbekende, geliefde mediese dokter van Durbanville het Sondagoggend in ‘n motorfietsongeluk op die Helshoogtepad (R310) by die afdraai na die Boschendal-wynlandgoed gesterf.
Volgens Kurt Maske, ‘n ER24-woordvoerder, is dr. Jacques Malan, ‘n algemene praktisyn, op slag dood toe sy motorfiets omstreeks 08:45 teen ‘n motor gebots het.
Malan was op die R310 in die rigting van die R45 onderweg toe die motor, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, voor hom na ‘n plaaspad van die Boschendal-wynlandgoed afgedraai het. Malan het in die kant van die voertuig vasgery. Die insittende van die motor is ongedeerd.
Deernisvolle mediese sorg
Malan se praktyk in Oxfordstraat in Durbanville het Maandagoggend ‘n skrywe aan pasiënte uitgereik om hulle oor sy skielike heengaan in te lig.
“Dr. Malan het sy lewe daaraan gewy om deernisvolle, hoëgehalte mediese sorg aan die gemeenskap te lewer en sal baie deur sy pasiënte, kollegas en personeel gemis word,” lui die skrywe. Sy kollega, dr. Jeanne Nel, sal die sorg van sy pasiënte oorneem.


