Haar samoesas en southappies is al vir langer as ’n dekade deel van die Franschhoek Village-mark, en nou hoop gemeenskapslede om Theresa Adonis se lewe te help red.
Theresa (62) is in Franschhoek gebore en getooi. Hier is sy deel van ’n familie vol bobaas-kosmakers en het besluit om haar skeppings by die plaaslike mark te verkoop.
“Behalwe vir die staatspensioen is dit ons enigste inkomste. Dit was baie stil by die mark die afgelope tyd, aangesien dit winter was, maar die geld wat ek wel gemaak het, gaan nou om my mediese fonds te betaal,” sê Theresa.
Dié mediese fonds is nou die belangrikste nog, want Theresa het in Januarie uitgevind iets is fout met haar niere. Sy het gereeld die plaaslike kliniek besoek omdat sy hoë bloeddruk het. Nadat sy oor kopseer gekla het, is toetse gedoen en sy is uiteindelik na die Stellenbosch-hospitaal verwys. ’n Sonar het bevestig Theresa se niere werk nie soos dit moet nie.
“Gelukkig het ek niks pyn nie, maar die dokter het verduidelik nierprobleme veroorsaak nie eintlik pyn nie. Ek is wel baie naar en eet nie soos ek destyds geëet het nie. Maar ek voel eintlik goed – dit is net die Here se genade.”
Intussen het Theresa na ’n private dokter gegaan in die hoop om vinniger dialise te ontvang. Tot nou het sy egter nog geen behandeling vir haar verswakte niere ondergaan nie.
“My dokter skakel nou met die Tygerberg-hospitaal vir behandeling, maar ek is bereid om te betaal. Geld is reeds ingesamel om ’n port te laat insit vir die behandeling.” In ’n poging om Theresa met haar mediese onkoste te help, is ’n BackaBuddy-veldtog met die hulp van Samantha Jones van stapel gestuur. “Ons is desperaat om geld in te samel om dialise-behandelings vir die volgende 12 maande te dek totdat Theresa se nuwe mediese fonds in werking sal tree,” sê Jones.
Sy meen elke week wat verbygaan, is ’n week nader aan die verlies van dié geliefde Franschhoekse kosmaker.
) Besoek www.backabuddy.co.za/campaign/save-theresa vir meer inligting.





