Geliefde skoolhoof, vrou, dogter en vriend sterf in ongeluk op R44

Boodskappe van medelye stroom op sosiale media in ná die dood van ’n geliefde skoolhoof van Raithby Primêr in Raithby buite Stellenbosch.


Boodskappe van medelye stroom op sosiale media in ná die dood van ’n geliefde skoolhoof van Raithby Primêr in Raithby buite Stellenbosch.

Eugene van Graan (54) van Pniël, sy vrou, Elma (52), hul dogter Euodia (23) en haar kêrel, Ronwan Adams (23), is Saterdagaand in ’n botsing op die R44 naby Stellenbosch dood.

Die Stellenbosch-polisie het die voorval bevestig en gesê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek. Kapt. Nathalie Martin, ’n polisiewoordvoerder, sê drie mense is op die toneel dood en een later in die hospitaal.

“Die ongeluk het omstreeks 22:00 op die R44 naby die Mountain Breeze-woonwapark gebeur toe die Ford Figo waarin hulle gery het, in ’n ongeluk betrokke was. Die ondersoek duur voort,” het Martin gesê.

Dit is onbekend hoe die ongeluk gebeur het.

Euodia van Graan en haar kêrel, Ronwan Adams, is saam met haar ouers in ’n botsing dood.

Die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch-munisipaliteit, advokaat Gesie van Deventer, het Maandag haar medelye met die Van Graan-familie op Facebook gedeel en gesê Eugene was ’n geliefde skoolhoof en ’n groot gees in die Raithby-gemeenskap.

“Ons sal sy liefde vir kinders en passie vir die onderwys altyd onthou. Hierdie nuus het ons gemeenskap diep geskok. Ek vra dat u die families in u gedagtes en gebede hou gedurende hierdie uiterse moeilike tyd. Hulle laat twee seuns en twee kleinkinders agter. Mag hulle nou in vrede rus,” lui Van Deventer se Facebook-inskrywing.

St. Paul Primêr in Faure het ook medelye met die familie en skool op Facebook gedeel. “Raithby-personeel, leerders en ouers – ons innige simpatie met die heengaan van jul leier, pa-figuur en mentor vir vele. Ons gebede is met julle en mag God julle vertroos en in sy liefde omvou. Rus sag, familie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.