’n Gedenkdiens sal Saterdag 5 Augustus om 10:45 vir 11:00 in die St. Matthews-kapel, Somerset College, Bredellpad, Somerset Wes, vir die bekende en geliefde Stellenbosser Anna Smuts gehou word.

Anna, die vrou van die voormalige onderburgemeester Martin Smuts, is op 27 Junie in die ouderdom van 56 oorlede.

Aldus Martin Smuts neem hulle met hartseer afskeid van ’n uitsonderlike vrou.

“Anna was ’n koesterende ma, suster, vriendin en vertroueling wat ’n ingrypende verskil en betekenis in menige se lewens gemaak het.

“Kanker is ongeveer 18 maande terug by haar gediagnoseer, en sy is Dinsdag 27 Junie omstreeks 16:45 in ons huis op Stellenbosch oorlede. Sy was vanaf Maart 2023 altyd omring en ondersteun deur familie, geliefdes, versorgers en vriende. Anna sal vir altyd in ons bly voortleef,” sê Martin.

Anna is op 19 Oktober 1967 in Ceres gebore waar haar ouers, wyle Day en Esther van Niekerk, as predikantspaar verbonde was aan die Op-die-Berg-sendinggemeenskap, Koue Bokkeveld.

Sy het in 1989 haar B.Mus-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en in 1990 ’n Honneursgraad in musikologie van die Universiteit Kaapstad ontvang. Sy het ’n beurs ontvang vir die verwerwing van ’n meestersgraad in etnomusikologie aan die Universiteit van Malawi. Tydens haar verblyf in Malawi het dié universiteit se akademici ongelukkig nie hul ooreenkoms met Anna nagekom nie, en het sy na Suid-Afrika teruggekeer.

In 1991 het sy aangesluit by die Laerskool Rondebosch-Oos as musiekonderwyseres en later by Hoërskool Kampsbaai.

Daarna het sy by ’n toeroperateur aangesluit om ’n toerafdeling met ’n fokus op Sentraal-Europa te vestig. Tydens 2006 stig sy die firma Dobro Travel met ’n fokus op die Balkan, Baltiese en Sentraal-Europese State.

In 2016 het Anna haar aandag voltyds na haar familie verskuif en was ook betrokke by Touching Hearts Ministries as Stellenbosch se skakelpersoon.

Sy word oorleef deur haar man, Martin, haar drie kinders, Mira (19), Tomas (17) en Dia (12), haar broer, Henk van Niekerk en sy kinders, asook haar suster, Izette Oelofse en haar gesin.

You need to be Logged In to leave a comment.