Die Stellenbosch-polisie bedank die gemeenskap vir inligting wat tot ’n inhegtenisneming gelei het.
Danksy ’n wenk wat aan die polisie deurgegee is, het polisielede, wat verlede Vrydag (6 Mei) patrolliewerk in Khayamandi gedoen en ’n optrede uitgevoer het, ’n 20-jarige man weens die besit van vuurwapens in hegtenis geneem.
Volgens kaptein Natalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, het die lede om 23:30 op inligting wat van die gemeenskap verkry is, reageer. Die inligting het die beamptes na ’n woonadres in die informele nedersetting gelei. “Terwyl die polisielede die huis deursoek het, het hulle op ’n kluis aan die agterkant van ’n kamerdeur afgekom. Hulle het twee vuurwapens – ’n 7.65 met agt patrone en ’n 9 mm-parabellum met 18 patrone, gevind,” het Martin gesê.
Die polisie het beslag gelê op die vuurwapens en die verdagte op klagtes van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen in hegtenis geneem. Verdere polisieondersoek het later bevestig die vuurwapens is gekoppel aan voorvalle van huisroof wat onlangs in Lwandle aangemeld is. Die vuurwapens is glo ook in die nedersetting gesteel.
“Die polisie bedank die gemeenskap dat hulle lede met hierdie soort inligting vertrou en verseker dat alle inligting as anoniem hanteer sal word. Verdagtes kan verseker wees van gereelde patrollies en optredes wat in alle dele van Stellenbosch uitgevoer sal word.”