Jou welstand is die rede waarom gemeenskapsgesondheidswerkers van deur tot deur stap.
Só sê die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in ’n verklaring deur woordvoerder Sandra Maritz.
“Gemeenskapsgesondheidswerkers bemagtig jou met inligting, identifiseer siektetoestande vroegtydig en sal vir jou sê wanneer jy ’n kliniek of mobiele kliniek moet besoek. Hulle ondersteun jou ook om jou kroniese medikasie reg te gebruik en gee voorligting om jou siektetoestand te bestuur om komplikasies te voorkom,” lui die verklaring.
Gemeenskapsgesondheidswerkers is ’n verlengstuk van Wes-Kaap gesondheid en dikwels gemeenskappe se eerste kontak met gesondheidsdienste. November word opgedra aan hierdie individue wat hulle toewy daaraan om mense se lewenstyle en gedrag positief te beïnvloed sodat hulle goeie gesondheid kan hê.
In die Kaapse Wynland is daar ongeveer 300 gemeenskapsgesondheidswerkers wie uitgeken kan word deur die uniforms van die nie-regeringsorganisasie deur wie hulle aangestel is, asook hul naambordjies. Tydens ’n tuisbesoek word daar spesifieke gesondheidsvrae aan almal in die woning gevra en word daar leiding gegee oor gesondheidsonderwerpe sodat mense gesond kan bly. Klem word ook gelê op sorg aan ma’s en kinders en veral die eerste 1 000 dae van die kind se lewe.
In die eerste 1 000 dae (die tydperk sedert bevrugting tot die kind se tweede verjaardag) is die ma en baba se gesondheid baie belangrik. In hierdie tydperk vind die meeste brein ontwikkeling plaas. Voeding en stimulasie is baie belangrik.
“Gemeenskapsgesondheidswerkers leer ouers en versorgers van die belangrikheid van liefde, speel en interaksie sodat hul kind so goed moontlik ontwikkel.”
Gemeenskapsgesondheidswerkers in Drakenstein word nou voorberei om van Februarie 2020 af voort te bou op die eerste 1 000 dae-konsep, deur sorg en liefde te verduidelik met die gebruik van ’n kombers as simbool.
As deel van die Kombersprojek kry ouers en versorgers praktiese leiding om sorg en beskerming teenoor baba en mekaar te versterk, en om ’n spesiale band met hul baba te vestig.
“Ek glo die toevoeging van hierdie opleiding is krities vir die emosionele ontwikkeling van die kind. Dit help almal in die familie om hulle rol in die baba se ontwikkeling te besef en ook hoe jy die baba moet stimuleer, hoe jy liefde toon en hoe jy na jouself kan omsien,” sê Kathleen Lucas wat die dienste van gemeenskapsgesondheidswerkers in die Kaapse Wynland koördineer en ook die opleiding oor die kombers as simbool voltooi het.