Die Black Pumas se o.15-span het in hul afdeling koning gekraai. Foto’s: Yaël Malgas


Dit was ’n dag van netbal toe die Black Pumas-netbalklub Jeugdag op die Cloetesville-netbalbane gevier het.

Die Pumas het Sondag (16 Junie) die Young Anemones van Athlone onthaal met die klubs se vele spanne wat die baan aan die brand gespeel het.

Volgens Vernon Peterson, voorsitter van die plaaslike klub, was die dag ’n sukses ten spyte van ’n paar klubs wat nie die geleentheid kon bywoon nie.

Die gemengde spanne het vir vinnige en vermaaklike netbal-aksie gesorg en het plek-plek die ondersteuners op hul voete gehad.

Onder die toekennings van die dag waarmee die plaaslike span weggestap het, was die beste o.13- verdedigende speler (Kaylee Croutz) en die o.13-speler van die dag (Calvernio Petersen), terwyl die o.13-span hul afdeling gewen het. Lizelle September is as die beste middelbaanspeler in die o.15-afdeling aangewys en Jaron Langeveldt is as die o.15-speler van die dag aangewys.

Die o.15-Black Pumas het ook in hul afdeling geseëvier.

In die B-afdeling is Neathan Amos as die beste verdedigende speler aangewys, terwyl Paul Beukes se vertoning op die baan hom die beste aanvallende speler-toekenning besorg het.

Puma Taylor Michaels was die beste B-afdeling-speler van die dag en lid van die span wat die knie vir die besoekende span in hul afdeling moes buig.

Die beste middelbaanspeler in die A-afdeling was Willmore Williams, met die res van die pryse in die A-afdeling wat aan die Young Anemones gegaan het.

Petersen het al die spelers en ondersteuners wat die dag ’n groot sukses gemaak het vir hul deelname en sportmangees – asook hul sportgees – bedank.

Die bestuur van die Black Pumas-netbalklub saam met die A-afdeling se wenners, die Young Anemones.

Black Pumas se Taylor Michaels was die B-afdeling se speler van die dag.

REGS: Neathan Amos, bobaas-verdediger. Foto:

Die Black Pumas se o.13-span het die besoekers van Athlone tydens die Jeugdag-toernooi getroef.

Black Pumas se Paul Beukes werk hard om die bal in die net te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.