Tien van die plaaslike rugbyklubs was Saterdag (14 Mei) in verskeie Westelike Provinsie-ligas in aksie, met die eerste spanne van vier klubs wat teen die eindfluitjie as die wenners van hul kragmetings bekroon is.

In Superliga-A het Stellenbosch-Maties na Seepunt gereis met die hoop om die oorhand teen Hamilton te kry, veral ná sy 24-54-wegholsege oor die Kuilsrivier-rugbyklub die vorige naweek. Maar, die besoekers het met hul vertoning verras en die Stellenbossers opdraand gegee en sterk gestaan teen die voorlopers in die liga en uitstekend gevaar om 22-22 gelykop te speel.

Die manne van die Franschhoek-rugbyklub het in die Superliga-B kragte gemeet met die All Saints-rugbyklub in Somerset-Wes. Die tuisspan het sy tuisvoordeel ten volle benut en die besoekers 32-11 geklop.

In Superliga-C het Pniël Villagers op sy goeie aanvallende rugby voortgebou om 10-31 met die tuisspan, Elsiesrivier United, af te reken. En in Kraaifontein het die tuisspan 33-19 koning gekraai oor Blue Stars United van Klapmuts, terwyl Kylemore-rugbyklub met 34-28 net te sterk was vir die besoekende span, Morningstar.

Op Raithby het die Raithby Universals gasheer vir Strand-rugby gespeel en moes hy die knie 15-57 buig.

In die Noordelike liga het Blakes-rugby voortgebou op die sukses wat hy verlede naweek behaal het deur ’n oortuigende 39-17-sege oor Sir Lowrians aan te teken.

Van der Stel-Evergreens was ook aan die wenkant en het sy opponente, die tuisspan, Delft United, met 3-42 behoorlik laat les opsê.

Die manne van die Excelsior-rugbyklub het in die Cloetesville-stadion met Manenberg Rangers kragte gemeet, maar 8-15 vasgeval.

In die Metro-liga het die La Motte Wanderers na Khayelitsha gereis om die manne van die Imiqhayi-rugbyklub aan te durf. Die spanne het mekaar in elke faset van die spel uitgedaag, maar teen die eindfluitjie moes beide spanne met 11-11 gelykop tevrede wees.

Die wedstrydbepalings van plaaslike klubs vir die komende Saterdag (21 Mei) is as volg: Franschhoek t. Goodwood (Franschhoek); Strand United t. Kylemore (Strand); Elsiesrivier t. Raithby Universals (Elsiesrivier); Pniël Villagers t. Kraaifontein (Pniël); Young Wesleys t. Excelsior (Phillipi); Whistling Wheels t. Van der Stel-Evergreens (Eersterivier); en Young Standards t. Simondium (Paarl).

You need to be Logged In to leave a comment.