Avril Fillies
Die Van der Stel-Evergreens- rugbyklub (VDE) se eerste span is nog op koers in Superliga A om sy teenstanders te wys hulle kan nie net afgeskryf word nie.
VDE het die afgelope Saterdag (24 Mei) teen Kuilsrivier gespeel en met 38-20 met dié span afgereken. Hy kom nou hierdie Saterdag (31 Mei) teen Brackenfell op laasgenoemde se tuisveld te staan.
Die VDE-vrouespan lewer ook goeie spel en is derde op die punteleer ná drie oorwinnings met 15 punte – dieselfde as St. George’s, teen wie VDE nog moet speel.
VDE se vroue speel Saterdag teen Brackenfell, wat tans met 19 punte ná vier wedstryde boaan die punteleer is.
Tans gee Durbell en Villager die pas in Superliga A aan met net een punt verskil tussen dié twee – Durbell op 27 en Villager op 26 punte.
Die res van die topses-spanne tans op die punteleer, benewens Durbell en Villager, is Ikeys, Helderberg, Hamiltons en VDE.
Hamiltons is tans die enigste onoorwonne span met vier oorwinnings in vier wedstryde en kan die kaarte deurmekaarkrap wanneer hulle hul uitstaand twee wedstryde gaan speel.
Dit beteken dan dat die posisies op die punteleer nog tot September kan verander.
In Superliga B is Franschhoek en Kylemore die twee spanne wat Stellenbosch en omgewing verteenwoordig, en hulle het maar gemengde welslae tot dusver behaal.
Franschhoek het Saterdag met Hamlets met 38-26 afgereken, terwyl Kylemore deur KSUT met 78-20 ‘n rugbyles geleer is.
In Superliga C het Pniël Villagers teen Strand tweede viool gespeel en 31-24 verloor.
Stellenbosch is goed verteenwoordig in die noordelike liga, waar Stellenbosch-Coronations, Excelsior, Raithby Universals en Blue Stars United die fort moet hou.
Raithby Universals lê tans tweede op die punteleer onder Sir Lowrians, met Blue Stars in die derde plek.
Corries en Excelsior beklee onderskeidelik die sesde en sewende plek.
Blakes speel in die Stadsliga, terwyl Cloetesville in die Metroliga die pas aangee met 18 punte ná vyf wedstryde, waarvan hulle drie gewen en twee verloor het.
Wedstrydbepalings vir Saterdag 31 Mei:
• SLA: Brackenfell t. VDE
• SLB: Kylemore t. Hamlets