Gemengde welslae vir dorp

Stellenbosch se rugbyspanne, Van der Stel-Evergreens (VDE) en Blakes, het Saterdag 6 Augustus gemengde welslae behaal in die Promosie-relegasiekompetisie, ook bekend as die Top-9, van die Westelike Provinsie-Rugbyunie.


Stellenbosch se rugbyspanne, Van der Stel-Evergreens (VDE) en Blakes, het Saterdag 6 Augustus gemengde welslae behaal in die Promosie-relegasiekompetisie, ook bekend as die Top-9, van die Westelike Provinsie-Rugbyunie.

VDE het in Idasvallei met 42-24 met Masiphumelele afgereken, terwyl Blakes in Chukkerweg, Lansdowne, die knie met 11-5 voor Violets gebuig het.

Albei Stellenbosch-spanne is aanspraakmakers op promosie na Superliga C in 2023 en VDE is tans die voorloper op die punteleer met 15 punte ná drie wedstryde. Blakes (drie wedstryde) en Hamediehs het albei 10 punte, maar Hamediehs het een wedstryd minder gespeel. Hamediehs het met Atlantis met 30-12 afgereken en is nes VDE besig met sy opmars vir promosie na Superliga C volgende jaar.

Hamediehs en VDE het op Saterdag 20 Augustus ’n belangrike afspraak in Athlone om te bepaal wie se onoorwonne status ’n knou gaan kry en almal weet Athlone is nie baie vrygewig met punte as jy Hamediehs besoek nie.

Violets het ook sy hoop laat opflikker om aanspraak te maak op die eerste vier plekke in die liga toe hulle Blakes tuis geklop het. Sir Lowrians het ook sy eerste oorwinning behaal toe hy met Noordelikes met 14-10 op sy tuisveld klaargespeel het.

In Idasvallei het VDE en Masi vir ’n drieë-fees gesorg en het die tuisspan rustyd met 21-7 voorgeloop. Leroy Ruiters (losskakel) het VDE se rekening geopen toe hy gaan druk en sy drie verdoel het.

Ander driedrukkers in die eerste helfte was Theo Pietersen (vleuel) en Lorenzo Claassen (heelagter). Ruiter het albei verdoel.

Ná rustyd het Godfrey Thomas (agtsteman), Ashley Fakuni (skrumskakel) en Ashwin Dube (vleuel) die ander drieë gedruk. Ruiters het soos in die eerste helfte albei verdoel. Fakuni het vir Hugh-Reece Christians op skrumskakel en Dube vir Pietersen op vleuel vervang. Ruiters is deur Elrico Februarie op losskakel vervang.

Geen wedstryde word hierdie week gespeel nie en dit gee spanne kans om na hul spelers se welstand om te sien en ook om bestek op te neem van waar hulle foute gemaak het en om nuwe wedstrydplanne reg te kry voor volgende week se wedstryde.

VDE se tweedes is ook die voorloper op die punteleer en het 12 punte in hul drie wedstryde ingesamel, wat twee oorwinnings en ’n gelykop-uitslag insluit. Hulle het Masi met 35-18 geklop.Puntemakers vir VDE 1:

Drieë: Leroy Ruiters, Lorenzo Claassen, Theo Pietersen, Godfrey Thomas, Ashley Fakuni en Ashwin Dube 1-elk. Ruiters het vyf verdoel vir ’n persoonlike telling van 15 punte.Puntemakers vir VDE 2:

Drieë: Divan Godfrey (2), Stefan van der Hoven, Duane Festus en Charles Williams een elk. Nigel Appollis het drie en Graham Davids een verdoel.Wedstrydbepalings vir Saterdag 20 Augustus:

Masiphumelele vs Violets

Blakes vs Lagunya

Sir Lowrians vs Atlantis

Hamediehs vs Van der Stel-Evergreens

Noordelikes het ’n loslootjie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.