Ná drie dekades sonder kontak het Robert Brooks en Gisela de Villiers mekaar weer gevind en nou ná 13 jaar bied hulle “Soos goeie wyn” saam aan.
Vrydag 19 April bied Robert en Gisela hul nuwe produksie by Drostdyteater in Stellenbosch aan.
Die twee het mekaar as tieners leer ken as lede van die destydse Natalse Jeugkoor. Robert is in 1978 na Oostenryk waar hy sy loopbaan as tenoor begin het, en het sedertdien verskeie groot pryse gewen.
Op haar beurt het Gisela musiek in Suid-Afrika studeer en koordirigent, komponis, pianis en kabaretsangeres geword. Oor die jare het sy bekendheid verwerf vir haar innoverende improvisasies.
Robert is ook stigter van die organisasie MIAGI – music is a great investment – wat diep spore trap in musiekopleiding op ’n nasionale vlak.
Die produksie bestaan uit liedere van Schubert, tango’s van Carlos Gardel, musiek uit verskillende oorde, en duette. Die kunstenaars tree ook op in Wene, Praag, Venesië en Kraków.
Nou, nooi die paar musiekliefhebbers om gedigte en aanhalings van hul keuse na die vertoning te bring wat onmiddellik deur Robert en Gisela in ’n volledige nuwe werk met begeleiding en melodie omskep en uitgevoer sal word. Bring jou gunsteling spreuk/ aanhaling/gedig en geniet hierdie diverse program, soos goeie wyn.
. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets teen R220 per persoon, en die konsert begin om 20:15.