Geo Botha van Stellenbosch neem deel aan Die brug op kykNET.

Credit: SYSTEM

’n Stellenbosser is een van 12 deelnemers aan ’n splinternuwe werklikheidstelevisie-reeks, Die brug, wat die afgelope Donderdag (26 Oktober) op kykNET (DStv-kanaal 144) begin het.

Geo Botha en 11 ander vreemdelinge weet goed die uitdaging gaan nie maklik wees nie, maar hulle speel almal om die groot prys van R1 miljoen te wen. Die deelnemers is ’n span wat in ’n afgeleë wildernis by die Buffeljagsdam in Swellendam is. Hul taak is om binne 20 dae ’n brug te bou in die hoop om met die prysgeld weg te stap.

In die proses om ’n brug aanmekaar te slaan om by die prysgeld uit te kom, is daar kinkels en uitdagings wat die ekwilibrium in die groep laat wankel. Die spelers se sosiale vaardighede, morele waardes, fisieke en geestelike krag en uithouvermoë word tot die uiterste beproef.

Die natuur speel ’n reuse-rol in nie net die uitdagings van die program nie, maar ook in die visuele skouspel wat die reeks bied. Die brug werk met elemente van avontuurverhale en verken die dramas wat afspeel wanneer die groep onder geweldige druk geplaas word. Die titel het egter ook ’n simboliese betekenis, want die spelers bevind hulle in hul eie lewe ook in situasies waar hulle brûe moet oorsteek om nuwe moontlikhede te ontsluit.

Dít verdiep die menslike drama en maak van die reeks ook ’n stryd om selfoorwinning vir die deelnemers.

Botha, ’n welvaartbestuurder, word in die reeks as die oogappel beskou. “Ek wil nooit in my lewe spyt wees oor iets wat ek nié gedoen het nie en lewe voluit,” het hy gesê. “Daarom het ek al Mnr. Suid-Afrika aangepak en aan Ysterman-kompetisies deelgeneem. Ek het verlede jaar ook ’n televisiereeks oor finansiële bestuur aangebied en het onlangs ’n boek saam met my broer gepubliseer.”

Die 35-jarige is ’n gesinsman wat getroud is met Vicky, ’n nasionale driekamp-atleet, en hulle het ’n eenjarige seuntjie.

Botha is doelgerig, ambisieus en altyd op soek na geleenthede wat hom as mens uitdaag en verbeter.

Hy geniet dit om aktief te wees en lees graag biografieë en boeke oor finansies. Lekker kos en goeie wyn is deel van sy daaglikse roetine.

Sy positiewe gesindheid teenoor die lewe het begin nadat sy suster op 13-jarige ouderdom in ’n motorongeluk was en sedertdien in ’n rolstoel is. Hy glo ’n mens is nie in beheer van wat met jou gebeur nie, maar hoe jy daarop reageer.

Botha wil eerste oor Die brug loop – nie net vir die geld nie, maar om vir homself en ander te bewys enigiets is moontlik. Hy wil as die wenner wegstap omdat hy die slimste spel gespeel en die beste uit die ander spelers gehaal het, en daarom die prysgeld verdien.

  • Die brug word deur Red Pepper Pictures vervaardig. Nuwe episodes word Donderdae om 20:00 uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.