Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement doen ’n beroep op mense om steeds versigtig te wees en voorkomend op te tree ondanks die feit dat minder mense in die Wes-Kaap die afgelope tyd positief vir Covid-19 getoets het.
Volgens Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distrik, was daar oor die afgelope twee weke ’n geringe toename in positiewe gevalle in die Kaapse Wynland-distrik.
Op 8 April was daar, volgens Maritz, in die Witzenberg ’n geringe afname in hierdie tyd. “Teen 8 April was daar 329 mense met Covid-19 in die Kaapse Wynland en een groepering van positiewe gevalle in Stellenbosch (ses persone),” het sy bygevoeg.
Meer as 5000 gesondheidswerkers (publiek en privaat) in die Kaapse Wynland is tot dusver teen Covid-19 ingeënt.
Sr. Nickey Langeveldt van Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum is ook onder dié wat ingeënt is en sê sy is baie beïndruk met hoe glad die proses verloop het. “Alles was baie goed georganiseerd. Ek was nogal bietjie angstig voor en na die tyd, maar ek het myself herinner dat dit is soos net soos wanneer ’n kind ingeënt word. Ek het na die tyd lyfseer gehad, maar dit het weer weggegaan,” sê sy.
“Vir ’n jaar het ons in vrees geleef. Nou is die geleentheid hier om ingeënt te word. Ons moet dit aangryp!”
Sr. Langeveldt is trots daarop om een van vier personeellede van die gemeenskapsdagsentrum te wees wat sover hier opgelei is om ook die entstof te kan toedien. Slegs gesondheidswerkers kan tans registreer om ingeënt te word.
Na verwagting sal fase 2 van die inenting in Mei begin en entstowwe sal by meer fasiliteite gebied word. “Die Wes-Kaap-regering se gesondheidspanne in die Kaapse Wynland het sy beplanning vir fases 2 en 3 ingedien. Sodra die provinsiale plan goedgekeur is, en die ministeriële advieskomitee duidelikheid gee oor die volgorde waarin mense in die verskillende fases geënt sal word, sal meer inligting beskikbaar gestel word. Intussen sal die inligting by https://coronavirus.westerncape.gov.za/covid-19-vaccination jou belangrikste vrae oor die entstof beantwoord,” het Maritz bygevoeg.