’n Groot man met ’n groot hart wat groot kon dink.Dít is hoe Stellenbossers en ook later die inwoners van Montagu vir Gert Lubbe (70) geken het en sal onthou.
Van toerisme, die gasvryheidsbedryf tot plaaslike politiek, die kerk, musiek en die kunste – orals het hy entoesiasties deelgeneem, bestuur en bemark en in die twee dorpe ’n besondere erfenis nagelaat. Hy is op 27 November ná ’n kort siekbed oorlede.
Lubbe is in Schweizer-Reneke gebore. Sy pa is oorlede toe hy twee jaar oud was, en Lubbe, sy ma en sy twee susters het in Stellenbosch en in die Paarl gewoon, waar hy by die Paarl-Gimnasium skoolgegaan het.
Hy het hom mettertyd tot die gasvryheidsbedryf gewend, was een van drie topstudente aan die Universiteit van die Witwatersrand se hotelskool en het ’n beurs verwerf om praktiese opleiding by die Krasnapolsky Hotel in Amsterdam te ontvang. Hy het ook vir Dave Rawdon, eienaar van onder meer die Lanzerac Hotel, gewerk, waar hy waardevolle ervaring en kennis opgedoen het.
In Stellenbosch het hy die Arcadia-gebou in Kerkstraat gekoop, dit eers as ’n dameskoshuis en van 1985 af as ’n hotel bedryf, die baie bekende en suksesvolle D’Ouwe Werf.
Lubbe was 10 jaar lank ’n entoesiastiese raadslid van die Stellenbosch-munisipaliteit, waar hy belangrike insette gelewer het ten opsigte van toerisme en stadsbeplanning. Hy was ook betrokke by die Stellenbosch-wynroete en stigterslid van die Stellenbosch-toerismevereniging. Sy liefde vir sang het hy in die Stellenbosch-mannekoor uitgeleef, waarvan hy die medestigter was.
In 1996 het hy na Montagu toe getrek waar hy die Country Inn in Badstraat gekoop en in ’n vierster-boetiekhotel omskep het. Hier kon hy sy kunssinnigheid met oorgawe uitleef in die meubilering en versiering van die hotel, wat tans as die mees outentieke Art Deco-hotel in die land bekend staan. Hy het vroeër ook die Matoppo Inn in Beaufort-Wes gekoop, waar sy huidige vennoot van die hotel in Montagu, PJ Basson, in 1997 by hom begin werk het.
Basson praat met groot lof van sy vennoot en kollega en sê sy kinders het hom “oupa” genoem. “Hy was my vriend en leermeester gewees.” Hul boetiekhotel het toptoerismetoekennings in 2014 en 2016 ontvang en Lubbe se gulle gasvryheid en die puik diens wat sy hotel bied, is welbekend. “Hy het ons as personeel gelei met wysheid en is baie hoog geag deur almal wat vir en saam met hom gewerk het,” het Basson gesê.
Lubbe was jare lank voorsitter van Montagu-toerisme en stigter van Country Routes. Roete 62 was sy blink idee, volgens sy jare lange vriend, Koos van Dyk. “Gert was by die Toerisme Indaba waar sy moedeloosheid oor die toerismebedryf se onkunde oor Montagu hom herinner het aan die herlewing van Route 66 in die VSA. Dit het hom geïnspireer om Roete 62 as toeristeroete te bemark.”
Lubbe was ook betrokke by Hospice, hy was ’n Rotariër, waar hy as president gedien het, en was nou betrokke by die kuns en kultuur van Montagu.
“’n Groot man wat nog ’n groter rol in my lewe gespeel het,” voeg Basson by.
’n Diens ter ere van Lubbe word om 11 Desember om 10:00 in die Montagu NG Kerk gehou.