Gesie groet Stellenbosch einde November

Ná meer as ’n dekade in die Wynlande en agt jaar as burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit het raadsheer Gesie van Deventer vandag (30 Oktober) aangekondig sy hang binnekort haar ketting op.


Ná meer as ’n dekade in die Wynlande en agt jaar as burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit het raadsheer Gesie van Deventer vandag (30 Oktober) aangekondig sy hang binnekort haar ketting op.

Van Deventer het Woensdag tydens ’n emosionele raadsvergadering aangekondig sy sal aan die einde van November uittree.

Sy is in Augustus 2016 as burgemeester van die Eikestad verkies. Voor haar termyn in Stellenbosch was sy aan die stuur van sake by die Drakenstein-munisipaliteit, waar sy vyf jaar gedien het.

Tertius Simmers, die leier van die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap, het in ’n verklaring Van Deventer as ’n ware pilaar van die party beskryf. Hy meen haar toewyding en veggees vir dienslewering laat ’n “onuitwisbare stempel op inwoners in Drakenstein en Stellenbosch” agter.

Stellenbosch se munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, het Woensdag gesê Van Deventer is die langsdienende burgemeester van Stellenbosch in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis. “Onder haar leiding het Stellenbosch en sy omliggende dorpe uitsonderlike groei beleef, met transformerende ontwikkeling, opgradering van infrastruktuur en ’n sterk fokus op basiese dienste.

“Jaar na jaar is meer as 80% van die munisipaliteit se immer-groeiende begroting aan dienslewering en infrastruktuurverbeterings gewy, wat haar toewyding weerspieël om inwoners op te hef en ’n volhoubare toekoms te bou,” meen Mettler.

In ’n verklaring het dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, Van Deventer sy vriendin, mede-Namakwalander en “voorslag-burgemeester van die DA-vlagskip” genoem. Schreiber, DA-LP en voorheen die verkiesingshoof in Stellenbosch, verwys na sy kollega as ’n “bekwame hand” en meen sy verdien haar rus.

“Gesie, dis gepas dat jy die aankondiging gemaak het net ’n dag na jou jaarlikse blommeparade. Die pragtige blombeddings wat jy met soveel liefde in die middedorp geplant het, som jou nalatenskap in Stellenbosch op: ’n kleurvolle eiland van hoop wat wys dat, met die regte leiers, regerings in hierdie land kán werk – en kán omgee,” skryf Schreiber op X.

Van Deventer met dr. Leon Schreiber, huidige minister van binnelandse sake en voorheen die verkiesingshoof in Stellenbosch, voor die Stellenbosch-stadsaal. Foto: Leon Schreiber/X

Mettler sê Van Deventer sal gemis word deur kollegas en inwoners. “Ons wens haar ’n welverdiende, rustige aftrede toe en hoop sy geniet die kosbare tyd saam met familie en vriende in die jare wat voorlê,” sê Mettler.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.