Gesie van Deventer, die burgemeester, en raadslid JC Anthony, staan by die kinders wie se gesin alles in ’n brand verloor het.Foto: Angelo Julies


Gesie van Deventer, die uitvoerende burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit, het Maandag (18 Julie) haar Mandeladag gevier deur haar oor ’n gesin van Klapmuts, wat al hul besittings in ’n brand verloor het, te ontferm.

“Ek doen hierdie nie in die hoedanigheid as die burgemeester of as ’n DA-lid nie, maar as Gesie, die gewone inwoner. Dit is my persoonlike bydrae tot Mandeladag, maar ook aan ’n gesin wat dit nodig het,” het Van Deventer gesê.

Van Deventer het soos enige gewone mens haar hand in eie sak gesteek, in ’n ry by die winkel gaan staan en kruideniersware vir die gesin van drie gaan koop.

“Ek wou nie spesiale behandeling ontvang nie. Ek wou nie iemand stuur om dit vir my te doen nie – ek wou dit self doen, want dit is waaroor Mandeladag regtig gaan. Mandeladag is ’n dag van omgee. Madiba het ons geleer om mense te dien.”

Die gesin van drie (die 49-jarige ma en twee kinders) het al hul besittings verloor toe hul opslaanhuis by Alexanderstraat 13, waar hulle gewoon het, voorverlede Sondag aan die brand geslaan het.

Volgens Leonie Marang, ’n tante van die gesin, het die brand Sondag 10 Julie omstreeks 18:40 uitgebreek. “Gelukkig was niemand van hulle in die huis nie. Die kinders was hier [langsaan] by my toe dit begin brand het. Hulle ma was by ’n vriendin.”

Die oorsaak van die brand is onbekend.

Enigeen wat die gesin met skenkings vir klere, boumateriaal of enigiets anders kan bystaan, kan Leonie Marang by 061 879 0880 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.