Die polisie in Klapmuts is op soek na vyf rowers wat Maandagaand (11 Julie) ’n gesin op die Loskop-plaas aangeval het.
Volgens sers. Bernadene Arendse, ’n woordvoerder van die Klapmuts-polisie, het die huis se deur half oopgestaan nadat een van die bewoners ’n bok uit die huis gejaag het.
“Toe die 49-jarige vrou weer sien, was vyf mans in haar huis. Die vrou se seun het terselfdertyd uit die slaapkamer gekom. Die mans het ’n vuurwapen op hom gerig en hom aangesê om by sy ma te gaan sit.”
Die voorval het omstreeks 21:30 plaasgevind op die plaas, wat op die Hercules Pilaar-pad geleë is. Die verdagtes het almal klapmusse gedra en een van hulle het ook ’n mes in sy besit gehad.
Die rowers het die huis verder deursoek en ’n 64-jarige man in een van die slaapkamers aangetref. Die man is met ’n koevoet oor die kop geslaan.
“Die rowers het skootrekenaars, juweliersware en nog ander waardevolle items ter waarde van R100 000 gesteel. Hulle het die gesin in ’n kamer toegesluit en van die toneel af gevlug.”
Buiten die man, wat oor sy kop geslaan is, is niemand anders tydens die rooftog beseer nie. Die vrou het die polisie ingelig van die voorval nadat sy daarin geslaag het om haarself los te wikkel nadat die rowers weg is.
Plaaswaglede en die honde-eenheid het later die aand ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur, maar hulle was skoonveld.
Die Klapmuts-polisie ondersoek ’n klag van huisroof en enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die rowers kan lei, kan die polisiekantoor by 021 875 8000 of die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 kontak.. The Klapmuts police are searching for five robbers that targeted a family on the Loskop-farm on Monday night.